Verlede maand
Deal eindig op ’n vals noot
Wenner: Nadia April sing haar hart uit in haar laaste optrede in die sangkompetisie.FOTO’S VERSKAF  ~ 

TOE SY die kompetisie gewen het, het sy gedink haar lewe van ellende gaan tot ’n einde kom.

Maar dit alles was net ’n droom vir Nadia April (32) van Grabouw.

Hoewel sy haar hart in die kompetisie Star Struck uitgesing het, het die organiseerder, Brilynn van Rooyen, haar ’n lekker kop aangesit, vertel April.

Nadat sy in Desember 2018 as die algehele wenner aangewys is en pryse ter waarde van R600 000 moes wen, sit sy vandag net met ’n mic.

Sy beweer sy moes ’n studiebeurs, ’n market­ing deal en haar eie parfuumreeks gekry het.

Volgens April het Van Rooyen nie by sy end of the bargain gehou nie.

Sy sê hy het baie onprofessioneel opgetree.

April vertel: “Ek moes aanmekaar agter hom aan bel om te hoor wanneer ek aan my album kon begin werk.

“Dit was festive season en hy’t gesê hy wou nie hê ek moes in daai tyd begin werk nie oor hy nie te veel druk op my wou plaas nie.

“Ek het hom gesê ek is beskikbaar, want ek is ’n seisoenwerker.

“Toe ek in Februarie begin werk het, wou hy hê ek moet studio toe kom.

“Ek het vir hom gesê ek werk en dit is onmoontlik vir my. Daarna het ek nie weer van hom gehoor nie.”

April vertel sy het onlangs weer kontak met Van Rooyen probeer maak.

Volgens haar het hy toe gesê sy moet inkom, maar sy het nie vervoer gehad nie.

April sê haar hele familie het ingespring om te help met die geldinsameling wat deel van die kompetisie was.

Sy vertel sy moes elke week duisende rand aan Van Rooyen betaal voordat sy kon sing. Volgens haar moes sy mense betaal sodat hulle die saal vir die kompetisie kon vol maak.

Van Rooyen het in reaksie aan Son gesê April was veronderstel om na die studio te kom, maar het nooit tyd gemaak om hom te sien nie.

“Ek het ’n datum geset vir die launch, maar sy’t net verdwyn.

“Haar perfume range gaan ook hand aan hand met dit. So, sy moes inkom na die studio toe.”

Van Rooyen voeg by hy het nooit vir April gesê om geld in te betaal nie.

Hy sê hulle moes werk om te leer hoe om as artists op hulle eie bene te staan.

Nadat Son met Van Rooyen gepraat het, het hy April in kennis gestel dat haar kontrak met hom gekanselleer is.

Sy moet ook die mic binne sewe dae teruggee anders gaan hy ’n criminal saak teen haar oopmaak, het hy gedreig.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
6 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters