Verlede jaar
De Lille pak DA verder in hof
Stryder: Patricia de Lille sê die geveg gaan voort.Foto’s: melinda Stuurman  ~ 

DIE DA het die Kaapse burgemeester, Patricia de Lille, se lidmaatskap van die party gister opgeskort, maar sy dra tegnies nog die ketting om haar nek.

Dít is egter net totdat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) kennis ontvang dat haar vakante pos gevul moet word.

Die Wes-Kaapse OVK-kommissaris, Courtney Sampson, het teen druktyd gister bevestig die OVK het nog geen sodanige kennisgewing ontvang nie.

En die beleërde mayor het klaar aangedui sy gaan nie sommerso tou opgooi nie. Sy het haar lawyers opdrag gegee om die DA sowel as die Stad Kaapstad hof toe te sleep om haar DA-lidmaatskap en haar pos as burgemeester te behou.

Dié saak sal na verwagting Vrydagoggend in die Kaapse hooggeregshof aangehoor word.

Die DA se federale uitvoerende raad (FedEx) het gisteroggend aangekondig De Lille is uit die party geskors nadat sy in ’n radio-onderhoud gesê het sy beplan om die DA te verlaat.

Volgens die FedEx-voorsitter, James Selfe, bepaal die DA se reëls ’n DA-lid se lidmaatskap word gestaak sodra die lid sê hy of sy bedank óf beplan om te bedank.

Die onderburgemeester, Ian Nielsen, het homself kort daarna op ’n aparte nuuskonferensie as die waarnemende burgemeester bekend gestel.

Nielsen sê die burgemeesterskomitee is ontbind totdat ’n nuwe mayor inge­huldig word.

Nielsen sê hy gaan ’n voorlopige mayco aanstel.

Volgens Nielsen het die munisipale bestuurder, Lungelo Mbandazayo, die OVK reeds oor die vakature­ ingelig.

Sampson het egter gesê teen gister laatmiddag het hulle nog geen kennisgewing van Mban­dazayo ontvang nie.

De Lille sê die DA het haar uit die party geskop sonder om enige behoorlike prosedure te volg. Maar sy gaan dit nie daar laat nie, want haar lawyers het die OVK met hofstukke bedien waarin hulle vra dat die liggaam se kommissaris nie die vakature erken as hy dit ontvang nie.

De Lille sê verder: “Die DA se desperaatheid het weer gemaak dat hy nog ’n kortpad vat om van my ontslae te raak voordat hy sy eie prosedures gevolg het.” Volgens De Lille­ het haar verdrukking deur die DA se konserwatiewe faksie in 2014 begin toe sy ’n transformasieprogram bekend gestel het.

“As hulle dít as ’n oorwinning beskou, is dit ’n oorwinning vir die DA se konserwatiewes.

“Dat hulle moet staatmaak op wat ek in ’n radio-onderhoud gesê het, wys dat hulle van meet af aan niks teen my gehad het nie.”

Tony Ehrenreich, die Wes-Kaapse Cosatu-sekretaris, sê: “Die manier hoe die DA De Lille behandel, wys die totale minagting wat die ou, wit elite teenoor swart DA-leiers en -lede het.”

Die FedEx se adjunkvoorsitter, Natasha Mazzone, sê die DA het nog geen hofstukke van De Lille af ontvang nie.

De Lille het met haar vertroueling en voormalige DA-koukusleier in die Wes-Kaapse parlement, Rodney Lentit, by gister se nuuskonferensie opgedaag.

Sy sê die media moet nou hul navrae direk aan haar stuur en nie meer aan haar mediaspan van die Stad nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters