Verlede jaar
De Lille: Ek sal DA hof toe vat
nie tevrede:Patricia de Lille dreig weereens om die DA hof toe te sleep.Foto: melinda stuurman  ~ 

KAAPSTAD se burgemeester, Patricia de Lille­, het weereens die DA-leiers gewaarsku dat sy dié party hof toe sal sleep.

Die adjunkvoorsitter van die DA se federale uitvoerende raad (FedEx), Natasha Mazzone, sê die feit dat De Lille haar vertoë openbaar gemaak het, sal nie die FedEx se besluit raak nie.

Die FedEx het verlede week vir De Lille die kans gegee om te sê hoekom sy nie moet bedank of afgedank word nie.

Dit was nadat die DA-koukus in die Stad ten gunste van ’n mosie van wantroue in haar gestem het.

De Lille sê in haar vertoë daar is geen duidelikheid oor watter partyreëls sy verbreek het nie.

Sy sê verder: “Ek het min geloof in ’n positiewe uitslag.

“ ’n Ongunstige besluit sal ek in die hof toets.”

Sy vra ook of die party sal instem dat sy die hof spoedig mag nader oor die grondwetlikheid van die sogenaamde De Lille-klousule.

Dié klousule gee die DA die mag om haar te herroep.

Mazzone sê dis onwaar dat dié klousule bloot ingestel is om van De Lille ontslae te raak.

Sy sê dieselfde klousule is reeds in die Matzikama- en Stellenbosch-munisipaliteit teen senior ampsdraers gebruik.

Volgens Mazzone sal die FedEx die naweek De Lille se saak, sowel as die aangeleentheid van Matzikama se burgemeester, Rhenda Stephan, en Stellenbosch se speaker, Donovan Joubert, bespreek.

Intussen beweer De Lille die DA steek iets weg nadat hy gister versuim het om ondersteunende dokumente by die Kaapse hooggeregshof in te dien.

Dit hou verband met die sogenaamde Steenhuisen-verslag wat gelei het tot die mosie van wantroue.

“Al dié taktieke lei tot die vraag: Wat steek die DA weg, en hoe seker is hy van sy saak teen my?” wou sy weet.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters