2 maande gelede
‘Dán moet jy gedrug wees’
wreed: Die ses verdagtes moet hulle beweerde optjop-gedagtes in die Blue Downs-hof please explain. Foto: jonathan lestrade  ~ 

JUANITO Serfontein, die man wie se opgekapte lyk sowat twee weke gelede gevind is, het volgens gerugte een van sy vermeende moordenaars se pa opgetjop.

Daar word beweer dat een van die beweerde killers en sy tjommies toe sowat twee weke gelede wraak geneem en hóm (Serfontein) opgekap het.

Dié voorval het by ’n huis in Eerste Laan, Kraaifontein, plaasgevind.

Nadat Serfontein se moordenaars sy liggaam opgekap het, het hulle probeer om alle bewyse met skoonmaakmiddels uit te wis.

Daarna is sy liggaamsdele glo deur een van die beskuldigdes, Michael Edwards, in sy vrou se kar weggery.

Dis op ’n plaas langs die Bottelarypad in Brackenfell gedump.

Later sou die polisie bloed in dié Volkswagen Golf 7 opspoor.

Aanklag

Die kar is deur die polisie gekonfiskeer.

Dís alles deur familielede van Edwards aan Son bekend gemaak.

Edwards het gister saam met Theodore Williams, Ricardo­ Phillips, Jacques Fortuin en Jody Jeffreys in die Blue Downs-landdroshof op ’n klag van moord verskyn.

Zelda de Bruyn, ook ’n beskuldigde wat tans in die Pollsmoor-gevangenis aangehou word, is nie deur die bewaarders hof toe gebring nie.

Edwards se suster het aan Son vertel die aand van die moord op Serfontein het hulle by haar broer se huis gepaartie.

Sy vertel: “Dit was my verjaardag, toe stuur hy my ’n boodskap op Facebook.

“Hy’t gevra of ek vergeet het van hom.

“Ek het toe my man gesê ons moet na hulle in Kraaifontein gaan.

“Daardie aand was my broer net weg van die huis.

“Hy’t die boys vir ’n vinnige­ drive gevat en weer kom drop. Daarna het ek hom nie weer gesien nie.”

Volgens die suster het Edwards se vrou verlede week laat weet die polisie het hom toegekap.

Dis toe sy ook die suster in kennis stel hy het die Sondag ná die moord skoonmaakmiddels kom soek om sy vriend se garage mee skoon te maak.

Edwards se suster het aan Son vertel sy vrou is erg siek vandat sy vermoed hy is by die moord op Serfontein betrokke.

“Sy huil die hele tyd.

“Ons moet maar nou die hofverrigtinge bywoon.”

Volgens die suster vermoed sy haar broer was bedwelm die aand van die moord.

Sy sê hoewel sy nie kennis dra of hy wel drugs gebruik nie, het hy nie vir haar reg gelyk nie.

Sy vra angstig: “Hoe kap ’n mens iemand op?

Borgtog

“Jy moet gedrug wees om so iets te doen.”

Die verdagtes sal na verwagting binnekort om borgtog aansoek doen.

Daar is genoem die staat sal nie borgtog vir Williams teenstaan nie oor hy ’n skoon rekord het.

Die saak gaan vandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters