6 maande gelede
‘Daar’s panic in onderwêreld’
Nafiz ModackFOTO verskaf  ~ 

DIE beweerde dikding van die Kaapse nagklub-sekuriteitsbedryf, Nafiz Modack, is na bewering desperaat om borgtog te kry.

Modack, Colin Booysen (die broer van die beweerde leier van die Sexy Boys, ­Jerome “Donkie” Booysen), Jacques Cronjé, Ashley Fields en Carl Lackay se borgtog-aansoek duur na verwagting vandag in die Kaapse landdroshof voort.

Hulle is al op 15 Desember gearresteer in verband met die afpersing van nagklubeienaars in die Kaapse middestad om ­protection-geld aan hulle te betaal.

Daar was laas week tydens die vorige verskyning ’n sterk polisieteenwoordigheid by die hof met beamptes van die SAPD se spesiale taakspan binne en buite die hof.

’n Ingeligte het gister aan Son vertel Modack is desperaat om borgtog te kry.

Dieper

Die informant beweer: “Die dinge wat in die hof uitgekom het, is net die icing op die koek.

“Dis net die dinge wat Modack-hulle juis wil hê die polisie moet weet, maar daar is dieper dinge.

“Die onderwêreld is ­paniek­bevange, want Modack wil uitkom en diegene stilmaak wat nog buite is.

“As hy op borgtog uitkom, gaan hy hulle stilmaak voordat die ander dinge waarvan die polisie nog nie bewus is nie, kan uitkom.”

Volgens die ingeligte het een van dié persone wat die polisie die laaste tyd dopgehou het, onlangs sy tas gepak en uit die Kaap gevlug.

“Niemand weet waar hy is nie,” sê die informant.

Die ondersoekbeampte in die saak, kol. Charl Kinnear, is vandag steeds in die getuiebank wanneer die borgtog-aansoek hervat word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters