Verlede maand
‘Daai lieg hy!’
ELTON ELYFoto verskaf  ~ 

ELTON Ely smokkel nou nog uit die staatsgetuie se ouma se huis in Belhar.

Só het ’n voormalige Terrible Joster-bendelid wat staatsgetuie gedraai het, gister in die Kaapse hoog­geregshof gesê.

Ely is na bewering die leier van die Terrible Josters in Belhar.

Hy en 11 ander vermeende Terrible Jos­ters, onder wie die vermeende bendebaas Horatio Solomon, staan op 71 klagte tereg.

Dié klagte sluit moord, poging tot moord en dwelmsmokkelary in.

Die man het in 2015 staatsgetuie gedraai. Hy getuig teen sy voormalige vermeende bendebroers, insluitend sy eie bloedbroer.

Vrygelaat

In kruisondervraging is dit aan die getuie gestel dat hy Ely in 2012 gesmeek het vir blyplek.

Hy kon nie by sy familie in Leerdam Crescent, Belhar, bly nie omdat hy tik gebruik het.

In kruisondervraging is dit ook aan hom gestel dat Ely vir hom blyplek gegee het nadat hy op borgtog vrygelaat is vir ’n 2011-dwelmsaak omdat hy nie plek gehad het nie.

“Hy is verkeerd. Ek het nog nooit vir hom gesmeek nie.

“Ek het nog nooit vir hom blyplek gevra nie!

“Ek kon in Leerdam of in Kuilsrivier gebly het,” het die man getuig.

Hy het almal genoem wat in sy ouma se huis woon en getuig hulle het en sal hom altyd daar laat slaap.

Hy het toe ook beweer Ely smokkel nou nog uit sy ouma se huis.

Die hof het voorts gehoor Ely het tussen Januarie en Februarie 2012 vir die getuie blyplek gegee op voorwaarde dat hy nie by die Wilgerpark-woonstel tik nie.

“Ek het geweet ek mag nie daar tik nie. As ek in Belhar was, dan tik ek. Hy het my altyd gesê ek moet ophou tik.”

Die getuie het verder gesê Ely het hom nooit uitgesit toe hy in 2012 in Wilgerpark gewoon het nadat dwelms daar gevind en hulle in hegtenis geneem is nie.

Die polisie het tik, Mandrax en geld in die woonstel gekry.

Die getuie het gesê: “Hy het my nooit uitgeskop nie. Ons is ge­arresteer en is op bail uit.

“Van daar is ons huis toe. Ons het saam daar gewoon.”

Die getuie het verder gesê hy en Ely het nog saam na die commercial hof in Bellville gegaan om die geld te gaan haal wat in die arrestasie gekonfiskeer is.

Gesit

Dit is verder aan die getuie gestel dat Ely nie geweet het daar is dwelms in die stoof in sy woonstel toe hulle gearresteer is nie.

Verder is aangevoer Ely is seker die getuie het dit daar gesit.

“Dan moes hy my gesê het om dit daar te sit.

“Hy was daar. Dit is dan sy huis, sy stove,” het die getuie geantwoord.

Die verhoor gaan vandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters