12 dae gelede
DA-kongres, moddergooiery gaan voort
bonginkosi madikizela,masizole mnqasela,alan winde
Masizole Mnqasela, speaker van die Wes-Kaapse parlement; Alan Winde, premier, en Bonginkosi Madikizela, provinsiale minister van vervoer.  ~ Facebook

TERWYL die DA Saterdag voortgaan met hul beplande kongres, duur die moddergooiery tussen twee van die voorlopers in die wedloop vir provinsiale leier voort.

Die party se federale regskommissie het bevind die bewering - dat die huidige Wes-Kaapse leier, Bonginkosi Madikizela, 'n sluipmoord beplan het op Masizole Mnqasela - is onwaar.

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, sê in 'n verklaring dit is een van die mees ernstigste bewerings wat nog in die DA gemaak is.

Zille verduidelik: "Die federale bestuur het Donderdagaand die regskommisie se derde verslag bestudeer en die voorsittende beamptes van die kongres het Vrydagoggend besluit om soos beplan voort te gaan.

"Die bron van die valse gerug is 'n man, genaamd Zizi. Hy is uiteindelik deur die regskommisie opgespoor.

"Luidnes 'n beëdigde verklaring het Zizi op 18 September by 'n restaurant in Kaapstad dele van 'n gesprek gehoor wat hom laat aflei het dat Madikizela beplan om Mnqasela leed aan te doen."

Madikizela, wat ook provinsiale minister van vervoer is, sê hy is op 26 Oktober deur die premier Alan Winde ingelig oor die bewering.

Volgens Madikizela het hy dadelik die party ingelig.

"Ek het ook aan Masizole geskryf en gevra dat hy die bewering terugtrek omdat hy weet dit is nie waar nie. Hy het twee dae later teruggeskryf dat hy nie kommentaar kan lewer nie."

In 'n Facebook post sê Madikizela geen kriminele klag is geopen nie, dit het Mnqasela meer as 'n maand geneem om die koukusleier in te lig en hy het ook nie die party ingelig nie.

Madikizela skryf verder die afgelope vier weke was stresvol, maar hy het hom onderwerp aan die party se interne prosesse.

Hy daag Mnqasela ook uit om bewyse te gee vir die aantygings of erken dat dit 'n leuen was.

"Niemand verdien om deur te gaan waardeur ek is en dit omdat iemand desperaat is om 'n kongres te wen nie. Dit is hoekom ek Mnqasela gaan dagvaar vir naamskending."

Intussen sê Mnqasela dit is 'n jammerte dat Madikizela besluit het om 'n verklaring in die publiek te maak en hom as leuenaar te bestempel.

Hy hou egter vol Madikizela is sy vriend.

"Die saak word nog ondersoek en ons moet wag op daardie proses om afgehandel te word."

Mnqasela voeg by: "Ek het die saak met geen lid van die publiek of in die media bespreek nie. Toe ek die rumour hoor het ek die bewering ernstig opgeneem en ek sal dieselfde prosedure volg, want niemand is verhewe bo die gereg nie."

Mnqasela sê sy regsverteenwoordiger sal aandag gee aan Madikizela se planne om hom te dagvaar vir naamskending. 

Hy noem dit is teleurstellend, maar hou vol Madikizela is sy vriend.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters