8 dae gelede
DA kap ANC oor waterkrisis
GEEN WATER: Waterreservoirs in Vredendal het opgedroog.  ~ Foto Verskaf

DIE DA in Matzikama eis dat die ANC-beheerde Matzikama-munisipaliteit verduidelik waarom hy waarskuwings dat die water­reservoirs sal leegloop, geïgnoreer het.

Dit het veroorsaak dat die dorpe Vredendal en Vanrhynsdorp sedert Vrydag 4 Junie sonder water is.

Water in albei dié dorpe is weer Dinsdag en Woensdag aangesit, maar kommer bestaan dat hierdie dorpe weer waterloos kan wees.

Volgens Kallie Louw, DA-koukussweep in Matzikama, het die waterverskaffer Lorwua die munisipaliteit op 17 Maart gewaarsku dat van die waterpompe buite werking is. Reservoirs sal nie vol wees voordat herstelwerk aan die kanale gedoen word nie.

Hoewel die water aan is, sê Louw hulle weet nie of die damme teen Sondag vol sal wees nie. Dit kan weer probleme gee.

Lewer

Louw sê die probleem is net tydelik opgelos en die twee damme moet teen Sondag vol wees. “Die probleme kan selfs groter word.”

Sammy Claassen, mediawoordvoerder van Good-party aan die Weskus, sê hulle is bekommerd dat die ANC wat die Matzikama-munisipaliteit bestuur, nie die vermoë het om basiese dienste aan die mense te lewer nie.

“Infeksies weens die corona-virus is tans hoog in Matzikama en mense het water nodig om hul hande te was. Dit kan katastrofiese gevolge hê.”

Claassen sê al het die water aangekom, is hulle steeds bang dat dit weer kan afgaan.

Lionel Phillips, die waarnemende munisipale bestuurder van die Matzikama-munisipaliteit, sê almal het nou water en die reservoirs word volgemaak. Al die huishoudings is uitgestort.

“Terwyl daar aan die kanale gewerk word, wil ons genoeg water in die damme vir gebruik stoor. Sondag word die water weer afgesny en dan moet daar genoeg water in die damme wees vir die volgende twee weke. Die munisipaliteite van Saldanha en Swartland help ons ook met pompe, pype en kennis.”

Philips vra mense om steeds spaarsamig met die water te werk en dit net vir nodige goed te gebruik.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters