Verlede jaar
DA is ‘vermink’
nie beïndruk: Xolani Sotashe, Faiez Jacobs, Ebrahim Rasool en Zizi Kodwa spreek die media toe.  ~ 

DIE ANC sê dienslewering aan Kapenaars kan nie skipbreuk ly weens die DA se binnegeveg nie.

Dié party meen die DA is besig om homself stuk-stuk te vermink.

Die amptelike opposisie in die Stad Kaapstad het gister, ’n dag nadat Patricia de Lille uit die DA geskop is, gesê sy is ongrondwetlik uit haar pos as mayor verwyder.

Son het gister berig die DA het De Lille ge-fire nadat sy in ’n radio-onderhoud gesê het sy beplan om uit die party te bedank sodra sy haar onskuld­ aan wangedrag bewys het.

Zizi Kodwa, ’n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, het gister gesê die DA gaan verder inplof.

Kodwa meen: “Van die uitlatings­ en leuens wat deur senior DA-mense oor De Lille­ vertel is, is skokkend.

“Ons is al Dinsdag deur die media ingelig daar is ’n vakante pos verklaar. As ’n raad op so ’n manier bestuur word, soos die onderwêreld, kan dit net ’n inploffing veroorsaak.”

Volgens Kodwa moet die Stad onder die nasionale regering­ se administrasie geplaas word om stabiliteit in die raad te herstel.

Ebrahim Rasool, die ANC se provinsiale verkiesingshoof, sê De Lille bly die burgemeester totdat die OVK anders besluit. Die ANC het De Lille nie genader om die opposisie te join nie.

Hy sê: “Ons gaan nie die indruk skep dat sy in gesprek met ons is nie, want dis wat die DA wil hoor om sy staatsgreep te versterk.”

Xolani Sotashe, die ANC-leier in die Stad, sê die DA se binnegevegte beïnvloed dienslewering negatief.

Sotashe sê: “Amptenare in die Stad raak verward daaroor aan wie hulle verslag moet doen.”

Faiez Jacobs, Wes-Kaapse ANC-sekretaris, sê: “Om te versuim om R1,2 miljard in jou begroting te gebruik wat vir dienslewering aan die armes bedoel was en eerder onder mekaar te baklei is ’n misdaad.”

Die Wes-Kaapse EFF-voorsitter, Bernard Joseph, sê De Lille is baie welkom in die EFF.

Joseph sê: “Ek voel aan die een kant jammer vir Patricia de Lille. As sy skuldig is aan bedrog, dan moet sy antwoord daarvoor.

Bekommerd

“Maar ek glo aan haar onskuld en die manier waarop sy die beskuldigings sover hanteer.

“Ons wens haar sterkte toe.”

Grant Haskin, die ACDP-leier in die Stad, sê hy is bekommerd omdat die raad teen die einde van die maand ’n begroting vir die boekjaar 2018-’19 moet afhandel.

Courtney Sampson, die Wes-Kaapse OVK-kommissaris, sê hulle het die kennisgewing van ’n vakature in die Stad Kaapstad ontvang.

Hy voeg egter by: “Ons sal die verantwoordelike ding doen en vir die hofsaak wag.”

De Lille se saak teen die DA sal na verwagting môre aangehoor word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters