2 maande gelede
DA: Hy gooi bal na gemeenskappe
planne: Cyril Ramaphosa lewer sy staatsrede. Foto: NETWERK24  ~ 

PRES. Cyril Ramaphosa is beide gekruisig en geprys vir sy tweede staatsrede (Sona) wat hy Donderdagaand in die parlement gelewer het.

Opposisiepartye soos die EFF en DA meen Ramaphosa het versuim om die belangrike kwessies soos grondonteiening sonder vergoeding, werkskepping, gratis tersiêre­ opvoeding en bendegeweld aan te roer.

Aan die ander kant sê die Wes-Kaapse ANC-sekretaris, Faiez Jacobs­: “Dis ’n goeie tyd om ’n ANC-lid te wees, want die president het ál die belangrike aspekte behoorlik aangespreek.”

Die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, sê Ramaphosa het baie min detail in sy speech gegee, veral in verband met bendegeweld op die Kaapse Vlakte.

Steenhuisen sê: “Wat ons (Donderdagaand) gehoor het, was hoofsaaklik­ ’n president wat basies die bal na die gemeenskappe gooi.

“Wat ons benodig, is die ontplooiing van meer eerlike polisiemanne en -vroue op die strate om misdaad te bekamp.

“Ons kan dit nie in die gemeenskappe se hande los nie, want dit is juis die gemeenskappe wat aangeval word.

“Jy kan nie verwag­ dat die gemeenskappe hul eie misdaad bekamp nie. Ons benodig eerlike en professionele polisiebeamptes wat goed opgelei is met die nodige hulpbronne­ om die uitdaging van misdaad behoorlik die hoof te kan bied.”

Die EFF-leier, Julius Malema­, meen Rama­phosa­­ het die kans misgeloop om meer details te gee oor hoe grondonteiening sonder vergoedig uitgevoer sal word.

Malema sê: “Hy het niks oor grondonteiening sonder vergoeding gesê nie.

“Hy het net gesê hy sal die werk support wat die parlement in dié verband sal doen.

“Dit kan nie ’n wow moment wees nie. Die werk van die parlement sal voortgaan met of sonder sy blessing.

“Grond sal sonder vergoeding onteien word. Artikel 25 van die Grondwet sal verander word in gevolge die mosie wat ons as die EFF in die parlement gebring het.”

Die ACDP-leier, eerw. Kenneth Meshoe, verwelkom Ramaphosa se aankondiging dat die meeste hoërskole in tegniese skole omskep gaan word.

Meshoe meen: “Daar is baie matriku­lante wat sonder werk sit omdat hulle nie skills by die skool geleer het wat hulle ná hoërskool kan gebruik nie.

“Baie van ons kinders het baie jare verloor omdat hulle nie tegnies opgelei is sodat hulle hul eie base kan wees nie.”

Meshoe het ook die aankondiging van die verpligte twee jaar van vroeë kinderontwikkeling voor graad 1 vir jong leerders verwelkom.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters