9 maande gelede
DA dreig ‘cowboy’ Cele met hof
KOPPE STAMP: Die polisieminister, Bheki Cele, konfronteer die mayco-lid belas met veiligheid en sekuriteit, JP Smith, Woensdag op Kampsbaai se strand.  ~ Anele Mfazwe

DIE DA is glad nie beïndruk met die polisieminister, Bheki Cele, se sogenaamde cowboy-taktieke nie.

Dit kom nadat Cele en die mayco-lid belas met veiligheid en sekuriteit, JP Smith, Woensdag op die Kampsbaaistrand kop gestamp het. Son het gister berig Cele het ’n film shoot op dié strand stopgesit tydens sy inspeksie van die Kaapse strande.

Die DA-skaduminister van polisie, Andrew Whitfield, sê hy gaan Cele by die nasionale parlement se etiese komitee piemp.

Magte

Volgens Whitfield het Cele nie die reg gehad om cops opdrag te gee om die video-opname te stop nie, want die Stad Kaapstad het ’n permit aan die betrokke maatskappy toegestaan. Dis gedoen in ’n poging om werk te skep en die ekonomie van die provinsie aan die gang te hou.

Whitfield sê verder: “Ons is van mening dat Cele met hierdie instruksies buite sy magte as polisieminister optree. Hy het nie die mag om operasionele opdragte aan SAPD-lede te gee nie.

“Die mense van Suid-Afrika is moeg van Cele se arrogante cowboy-taktieke.”

Smith het gister bevestig hy wil Cele hof toe sleep oor sy “onwettige inmenging” in polisie operasies. Volgens Smith gaan die Stad die Kaapse hooggeregshof dringend nader vir ’n interdik teen die SAPD se inmenging by die filmproduksie.

Smith sê Cele het 30 polisiemanne opdrag gegee om die produksie te stop.

Outokratiese

“Om die filmproduksie te stop is onwettig en dit gaan teen die nasionale ramptoestand-regulasies wat die filmbedryf toelaat om te werk.

“Ek is bekommerd oor die outokratiese manier waarop die minister hom gedra het.

“Dis kommerwekkend dat ’n politieke ampsdraer onwettige opdragte aan polisie­beamptes gegee het en dat die SAPD-beamptes dié opdragte uitgevoer het.”

Intussen het die DA-leier, John Steenhuisen, gesê hy gaan pres. Cyril Ramaphosa en die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, dagvaar in verband met die sluiting van strande in die Suid-Kaap.

Volgens Steenhuisen het die party gister hofdokumente ingedien. Hy verwag dat die dringende aansoek Maandag gehoor sal word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters