3 maande gelede
Cyril kon toe wel staatsrede lewer
EFF SONA 2020. Photo Melinda Stuurman
Die EFF-leier, Julius Malema, Donderdag buite die parlement.  ~ Melinda Stuurman

PRES. Cyril Ramaphosa kon toe wel voortgaan met sy staatsrede nadat verrigtinge in die parlement weens ontwrigting deur die EFF vir 'n ruk moes verdaag.

Die speaker, Thandi Modise, het die verrigtinge verdaag nadat EFF-lede deur ligsinnige punte van order die verrigtinge ontwrig het.

’n Duidelik geïrriteerde Modise het gesê die sitting is verdaag nadat die EFF se chaos wat vir byna ’n uur geduur het Ramaphosa verhoed het om sy staatsrede te lewer.

Modise het gesê: “Ek is seker Suid-Afrika is nie trots op ons nie.”

Sy het verskeie kere die oproerige EFF-lede gevra om die reëls van die parlement te respek.

Die chaos het begin toe die EFF-leier, Julius Malema, gesê het die laaste apartheidspresident, FW de Klerk, moet uitgesit word, want hy het onlangs gesê apartheid was nie ’n misdaad teen mensdom nie.

Volgens ’n EFF-LP, Mbuyiseni Ndlozi, is baie mense onder De Klerk se regering op De Klerk se opdrag vermoor.

Die EFF-lede het later geëis dat Ramaphosa die minister van staatsondernemings, Pravin Gordhan, afdank.

Die DA-hoofsweep, Natasha Mazzone, het op haar beurt gesê die EFF skend die reg van miljoene Suid-Afrikaners wat die staatsrede wil hoor.

Volgens haar kan die meerderheid nie deur die minderheid regeer word nie.

EFF SONA 2020. Photo Melinda Stuurman
Die EFF nadat hulle die parlement verlaat het.

Die EFF-LP’s het later uit die parlement gestap.

Dit was nadat hulle gesing het “Pravin must go!”

Die DA se tussentydse leier, John Steenhuisen, en die ANC-hoofsweep, Pemmy Majodina, het toe Modise gevra om tugstappe teen die EFF-LP’s te doen.

Malema het buite volgehou dat hulle niks verkeerd gedoen het nie.

Hy sê: “Die EFF het die untouchables geraak...ons kan nie voortgaan asof alles normaal is nie.

“Was dit ’n Fikile Mbalula of ’n Malusi Gigaba wat so sleg die staatsondernemings bestuur het of enige ander swart minister sou hy al lankal afgedank gewees het.”

Ramaphosa het meer as ’n uur en ’n half later uiteindelik met sy staatsrede begin.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters