6 dae gelede
Crèche-ma gee kleingoed kos
Groot nood: Honderde kleingoed kry kos by die skema.  ~ Verskaf

DIÉ hardwerkende ma het haar twee seuns alleen grootgemaak en deesdae vervul sy ’n moederlike rol in soveel ander kinders se lewe.

Jennifer Lucas van Clarkes Estate, Elsiesrivier, besit en bestuur die crèche PJ’s Edu-Care al die afgelope 25 jaar.

Lucas vertel sy het reeds in 1996, ná haar man selfmoord, besluit dit is haar manier om ouers se las te help dra.

Lucas (56) sê elke kind het ’n spesiale plek in haar hart en net soos sy haar seuns waardes en drome geleer het, maak sy die kleinspan ook daarvan bewus.

Toe die pandemie ons laas jaar tref en selfs crèches moes sluit, het Lucas haar tot voedingskemas gewend om haar kinders te dien.

Hoewel die pandemie vir Lucas baie finansiële stres meegebring het, het sy vanjaar nóg twee crèches gestig.

Sy glo vroeë kinderontwikkeling is die belangrikste stadium in enige persoon se lewe.

Die ma van Craig Lucas, wenner van The Voice se tweede reeks, het sommer vinnig bekend geraak as Elsies se Samaritaan van voeding.

Lucas en haar span is nou werksaam by 12 voedingskemas onder Zone 1, ’n organisasie sonder winsbejag.

Hulle voed daagliks meer as 5 000 mense.

Sy vertel: “Ek het by die kombuise betrokke geraak toe die lockdown begin het.

“Ek was nog altyd bewus van die euwels in ons gemeenskappe en opvoeding is my manier om terug te ploeg.

“Die nood van voedingskemas het groter geword toe crèches en skole moes sluit en ek het besluit om my gewig hier in te gooi,” vertel Lucas.

Aanvaar

Sy sê met die hulp van haar Facebook-vriende en familie kon sy baie verrig.

“Ons aanvaar enige bestanddele of bedrag en die insamelingspoging is on­going omdat die nood so groot bly,” vertel Lucas.

Sy voeg by dit is vir haar lekker om haar gemeenskap, veral die kinders en bejaardes, te voed en sy geniet die daaglikse aktiwiteite rondom dit.

“Die bestuurders van die voedingskemas sukkel self om kop bo water te hou. Dit is hoekom ons die skenkings so waardeer.”

Op Vrydag 16 Junie het Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, opvoedkundige hulpbronne aan Lucas se crèche geskenk.

“Hierdie gaan oor meer as politiek. Dis vir die vooruitgang van ons kinders en ek is so dankbaar daarvoor,” sê Lucas.

Enige iemand wat graag ’n bydrae aan Zone 1 wil maak, kan Lucas gerus by 082 632 2548 bel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters