2 maande gelede
Crèche in die skool gesit
Dodgy: Die crèche by die Panorama Mediclinic was nog tot Vrydag oop, al het die hele land s’n twee weke gelede al toegemaak.  ~ Verskaf

TERWYL honderde dagsorgsentrums landwyd al lank toe is weens Covid-19, het die ligte van een in Plattekloof bly brand.

Toe die nuus by Son se ore uitkom dat die dagsorgsentrum by die Panorama Mediclinic nog oop is, het ons navraag gedoen.

Die werkers het laat weet hulle is Woensdag meegedeel hulle is nou noodsaaklike werkers.

“Ons het nog nooit dié jaar toegemaak nie.

“Al die crèche’e om ons het toegemaak toe pres. Cyril Ramaphosa twee weke gelede die eerste keer ’n beroep gedoen het.

“Ons het aangewerk, want ons kyk na die ver­pleërs en ander mediese personeel se kinders,” vertel ’n werker van die crèche.

“As ons nie opdaag vir werk nie, sal ons leave-dae moet insit.”

Die crèche is hoofsaaklik vir gesondheidswerkers se kinders geopen, maar mense in die omgewing kan by die dienste baat vind.

“Hulle is gesê ons gaan in dié tyd net na gesondheidswerkers se kinders omsien.”

Joshua Covenant Chigome, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van maatskaplike dienste, sê hulle sal dit moet ondersoek. “As die fasiliteit oop is, gaan ons ’n brief van non-compliance uitreik.”

Chigome sê mense moet laat weet as hulle weet van ander dagsorgsentrums wat nie toe is nie.

Tersia Bester, ’n woordvoerder van Panorama Mediclinic, sê die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het hulle crèche gevrywaar.

“Ons verpleërs werk van 07:00 tot 19:00. Die dagsorgsentrum kyk dan na hulle kinders.”

Bester sê verder: “Ons het in­house personeel wat na ons werkers by die hospitaal se gesondheid kyk.

“Verdere voorsorgmaatreëls behels dat ouers hulle kinders by die ingang moet los. Die kinders word ook gereeld ondersoek.”

Maar Bronagh Hammond, WKOD-woordvoerder, sê hulle weet nie van so ’n reëling nie. “Ons deal nie eens met crèches nie.”

Deuntjie

Bester het later ’n ander deuntjie gesing en gesê hulle het toestemming van die Stad Kaapstad. Dít kon nog nie bevestig word nie.

Son het laat Vrydag verneem die crèche het ná Son se talle navrae wel sy deure gesluit en sal eers ná die lockdown weer oopmaak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters