2 maande gelede
Cops is te rats vir ‘skieters’
boewe
Twee boewe is in 'n japtrap vasgevat.  ~ 

DIE spoedige reaksie van cops het gelei tot die arrestasie van twee mans kort nadat ’n man in Delft doodgeskiet is.

Die voorval het Maandag om en by 11:00 op die hoek van Silversandsweg en Aberdarestraat gebeur.

Volgens kapt. Hein Hendricks, ’n polisiewoordvoerder, is ’n 28-jarige man vier keer geskiet.

Die slagoffer is geïdentifiseer as Sizwe Madinga (28).

Die drie verdagtes het in ’n silwer VW Polo gevlug.

Hendricks vertel: “Inwoners het beamptes van die polisie se eenheid vir openbare orde wat die area gepatrolleer het, oor die voorval ingelig.

“Die polisielede het die kar gejaag en die polisie en die verdagtes het skote op mekaar afgevuur.”

Hendricks sê twee van die drie verdagtes is gearresteer vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en poging tot moord omdat daar op die polisiebeamptes geskiet is.

Beslag is gelê op twee ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie en die vermoedelik gesteelde kar is teruggekry. Die ander verdagte is steeds op vrye voet.

’n Ingeligte het vertel inwoners het die polisie gevra om die twee verdagtes aan hulle te oorhandig sodat hulle “ ’n voorbeeld” van hulle kon maak.

Vangwa

Die persoon sê die inwoners is gatvol en was oorgehaal om die verdagtes ’n goeie pak slae te gee oor hulle moeg is vir misdaad in hulle gebied.

Die polisie het die verdagtes gou in hegtenis geneem en hulle in ’n vangwa gelaai.

Volgens Hendricks word die omstandighede rondom die moord op Madinga nog ondersoek.

  • Enige een met inligting word vriendelike gevra om die ondersoekbeampte in die saak, AO AJ Petersen van die Delft-polisiestasie, dringend by 021 954 9000 te bel.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters