2 maande gelede
Cops help ou gou
VAARWEL: Sers. Samantha Adonis wens Mario Mendel ’n veilige reis toe.  ~ Jonathan Lestrade

HY HET sy selfoon verkoop om ’n buskaartjie te kan afford vir ’n werkgeleentheid in die Kaap – maar wat veronderstel was om ’n nuwe opportunity te wees, het vinnig ’n ander wending geneem.

En dit was ’n draai wat hy nooit verwag het nie.

Mario Mendel (33) van Chrisville in Johannesburg, is al ’n paar maande werkloos.

Mendel het gedog sy luck het gedraai toe hy uiteindelik Sondag ’n oproep gekry het van die besigheid waar hy vir ’n werk aansoek gedoen het.

“Ek is ingelig dat ek die werk gekry het en omdat ek nie geld gehad het nie, het ek besluit om my selfoon te verkoop om Kaapstad toe te reis,” vertel Mendel.

Hy het sy tasse gepak en die Sondag ’n buskaartjie gekoop. Hy het vroeg Maandagoggend in die Kaap aangekom.

Gestap

“Die bus het in Bellville gestop. Ek het nie genoeg geld gehad om ’n taxi te haal na die besigheid in Maitland nie en het begin stap, maar ek het in die verkeerde rigting gestap.

“Iemand het my gesê dit is nie veilig om so met my sakke te stap nie en het my verwys na die Bishop Lavis-polisiestasie.

“Ek het my situasie aan ’n polisiebeampte verduidelik en hy het my na Maitland geneem. Ek was twee uur laat en is ingelig dat die werk aan iemand anders gegee is omdat hulle gedink het ek kom nie meer nie.

“Ek het toe teruggestap na die Bishop Lavis-polisiestasie en my situasie verduidelik aan die beampte wat my eers gehelp het.

“Ek is gehelp met ’n plek om te slaap net totdat ek ’n plan kan maak om terug Johannesburg toe te kan gaan,” sê Mendel.

Maar gelukkig het hy nog ’n polisiebeampte, sers. Teboho Moahloli, ontmoet wat hom gehelp het om geld in te samel sodat hy terug huis toe kon gaan.

Moahloli sê hy het Mendel agter die polisiestasie gesien.

Moahloli sê hy het besluit om die geld in te samel en was glad nie skaam om die mense rondom hom te nader nie.

Hy het in die gemeenskap by ’n tuckshop gestop waar hy vir Mendel iets gekoop het om te eet en daar het hy sy storie aan hulle verduidelik.

“Hulle het vir hom iets gegee om te eet, asook geld om by te dra tot sy reis huis toe,” vertel Moahloli.

Hy het ook ’n donasie van nog ’n man gekry wat hulle teëgekom het op pad terug polisiestasie toe.

“Die man het sommer R50 gegee,” sê hy.

By die polisiestasie het hy besluit om van deur tot deur te gaan en sy kollegas te nader en só het hy die geld ingesamel.

Verskil

“Ons het genoeg geld ingesamel vir ’n buskaartjie.

“Ek wil vir almal baie dankie sê vir hul ondersteuning.

“Almal se bydrae het ’n verskil gemaak,” sê ’n dankbare Moahloli.

Sers. Samantha Adonis, die Bishop Lavis-polisiestasie se woordvoerder, sê dit was ’n gesamentlike poging van die polisie en die gemeenskap om Mendel veilig tuis te kry.

“Ons deure is oop en ons sal alles in ons vermoë doen om mense veilig te laat voel,” sê Adonis.

Mendel sê hoewel dinge nie uitgewerk het soos hy gehoop het nie, is hy dankbaar dat hy die nodige ondersteuning gekry het van die polisie.

Mendel is intussen terug Joburg toe.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters