2 maande gelede
Cops gee nare ontvangs
eina: Cheslin Williams wys hoe dik sy gesig geswel is nadat hy geboelie is. Foto: MURPHY ROBERTS  ~ 

ATLANTIS. – ’n Egpaar wat kort voor Krismis ná twee jaar in Amerika terug in die dorp is, is dikbek oor hulle nare verwelkoming hier.

Hulle voel om op die eerste beskikbare vliegtuig te klim.

Dít nadat cops Cheslin Williams (30) glo so rof gehanteer het dat hulle sy neus gebreek het. Hy het nog talle ander beserings aan sy gesig.

Williams sê: “Ek wou hier kom bly en werk, want ek is lief vir Atlantis en sy mense.” Die egpaar Williams se tuiskoms het egter in ’n nagmerrie ontaard.

Williams sê sy vrou het hom Oujaarsaand in ’n toestand gebel om te sê ’n klomp cops het op hulle huis toegesak op soek na guns en dwelms.

Hy vertel: “Toe ek by die huis kom, het ek net gevra wie in beheer is, toe bars die sewe soorte hel los.

“Die cops het my vertel dat ek my try slim hou en toe reën die houe op my.

“My vrou en ma is uit die huis geboender terwyl die cops my slaan en op my kop spring,” vertel hy. “Die cops het niks onwettigs in my huis gekry nie en net gesê hulle het ’n tip gekry dat daar guns en dwelms in die huis is.

Jaloesie

“Ek is skaars terug in Atlantis en dít gebeur!”

Hy vermoed jaloesie speel ’n rol.”

Williams sê: “Ek het ’n splinternuwe kar gekoop en die huis mooi laat maak.

“Dink die mense dat ons ná twee jaar in die buiteland kaal hande sou terugkom?”

Maar nou is hy so gatvol, hy wil liewer weer pak.

Hy sê: “Wat my finaal laat besluit het om eerder weer op die vliegtuig te klim, is toe die polisie by Atlantis-stasie weier om ons te help.”

Volgens Moses Dlamini, ’n woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), word ’n klag van aanranding teen beamptes ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters