2 maande gelede
Cops 'dwing Tau'
CHAOS: Die betogers gryp mekaar gister amper aan die keel voor die hof in Bellville.  ~ Peter Abrahams

DIE vermeende babadief Karabo Tau het gister getuig die speurders het haar gedwing om ’n verklaring af te lê waarin sy erken sy het die tweelingbaba Kwahle­lwa Tiwane gesteel.

Tau het in die Bellville Landdroshof getuig toe sy gearresteer is, was sy bang oor sy nie die tronk ken nie.

Sy sê is ondervra deur vier speurders, aan wie sy twee verklarings afgelê het.

Sy noem die speurders het aan haar gesê as sy skuld erken, sal hulle seker maak sy kry vinnig bail.

Volgens haar het die speurders haar gedreig en gesê sy sal lewenslank tronk toe gaan en haar toekoms sal daarmee heen wees as sy nie ’n verklaring aflê nie.

Tau het gister getuig sy’t niks van die voorval geweet totdat sy ge­arresteer is nie.

Die staatsaanklaer, Matrose Tobinceba, het Tau egter­ uitmekaar geskeur en haar getuienis nie geglo nie.

Tau het getuig: “Daar was eers twee speurders van wie een se van Samsodien is.

“Daar was ook nog twee swart speurders.

“Samsodien het my gesê wat ek in die verklaring moet skryf. Soos ek geskryf het, het sy my gesê wat ek moes byvoeg.

“Sy’t my gevra hoekom ek nie die ma se naam in die verklaring noem nie.

“Sy’t ’n dokument aan my gewys met die ma se naam op.

“Ek het haar gevra wat dit is, want ek weet nie wat die ma se naam is nie.

“Ek het toe sommer vir haar gesê ek het die ma ‘ma’am’ genoem.”

Toe die staatsaanklaer haar vra hoe sy vir Ely Kibunda, haar medebeskuldigde, ken, het Tau gesê hy’s haar Facebook-vriend en hy is aan haar bekend as Nelly.

Hy het haar verder gevra hoekom sy die polisie na ene Osizano, ook ’n buitelander, verwys het.

Volgens die staatsaanklaer het Tau aan die polisie gesê sy het die baba aan Osizano gegee.

Tau het verder getuig: “Die polisie was in besit van my selfoon en my password.

“Hulle het gesê hulle weet ek is in kontak met buitelanders.

Ontvoering

“Hulle het vir my gesê die buitelanders wil my gebruik om babas te steel, want dis wat hulle gereeld doen.

“Ek het toe Nelly en Osizano se name genoem oor hulle die enigste buitelanders is met wie ek praat.”

Gister is CCTV footage ook in die hof gewys wat bewys dat Tau op 16 Januarie – op die dag van die ontvoering – by die skool was.

Die kwessie rondom die tyd en datum het ook in die hof ter sprake gekom omdat die tyd van die kamerastelsel sowat 20 minute voor die werklike tyd gestel was.

Die skool se IT-tegnikus het getuig jy kan die tyd regstel, maar nie die datum nie.

Tau se Xhosa-onnie het ook kom getuig dat Tau op 16 Januarie by die skool was.

Die saak is uitgestel tot Dinsdag.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters