5 maande gelede
Cop: Só kap ons ou toe
Mortimer Saunders Foto’s: Shantel Moses  ~ 

MORTIMER Saunders het rustig gesit en TV kyk toe die polisie hom vir Courtney Pieters (3) se moord aangekeer het.

Courtney se lyk is op 13 Mei 2017 in die nywerheidsgebied Epping gevind.

Die hof het die getuie­nis van konst. Bradley Spogter van die Elsiesrivier-polisie gister aangehoor.

Spogter het getuig hy en ’n kollega, ene konst. Fortune, was op 14 Mei 2017 in Haltweg op patrollie toe ’n onbekende vrou van ’n onbekende nommer na sy werksfoon gebel het.

“Die vrou het gevra of ons nog na Saunders soek. Ek het gesê ja.

“Daarna het sy ’n adres gegee waar hy hom bevind.”

Spogter sê hy en sy kollega is onmiddellik na die huis in Jonahsingel, Elsiesrivier.

Hy het daardie dag die polisievangwa bestuur.

Spogter sê toe hulle voor die huis stop, het sy kollega met ’n man by die hek gaan gesels, maar hy is reguit na die granny flat agter die huis.

“Toe ek in die huis kom, het ek Saunders net daar gesien. Hy het op die stoel gesit en TV kyk.”

Volgens Spogter het hy Saunders herken, want ’n foto van hom was in die polisiekantoor opgeplak.

Die betrokke foto is verkry van die kringtelevisiemate­riaal van toe hy Courtney se liggaam gaan dump het.

Spogter sê Saunders (40) was geklee in ’n rooi gholfhemp, blou jeans en bruin Caterpillar stewels.

Dit was dieselfde klere wat Saunders op die foto aangehad het.

Hy sê toe Saunders hom sien, het hy opgestaan en in die ander rigting omgedraai.

Deurgesoek

“Vir my het dit gelyk hy wou vlug, maar ek het hom vinnig aan die agterkant van sy broek gegryp en vir hom gesê hy word gesoek vir moord.”

Spogter het voorts getuig hy het Saunders se regte mondelings aan hom voorgelees en hom toe deurgesoek. Daarna het hy hom na die polisiekantoor in Elsiesrivier geneem.

Saunders se lawyer, adv. Morné Calitz, het Spogter gevra hoekom hy sou sê Saunders wou vlug.

Spogter, wat al sewe jaar in die polisiediens is, het geantwoord: “In my werk hardloop die skollies of die ouens wat iets gedoen het altyd weg.”

Saunders het toe by monde van Calitz gesê hy wou nie vlug nie.

Gat toe: Mortimer Saunders verlaat die hooggeregshof gister ná sy verskyning.
Gryper: Konst. Bradley Spogter het Mortimer Saunders in hegtenis geneem.

Adv. Esmeralda Cecil het die hof gevra vir uitstel tot môre, wanneer die patoloog na verwagting sal getuig.

Die DNS-kenner Luthan­do Thiya, wat laas week getuig het, sal egter voor die patoloog getuig.

Calitz het die hof gevra om Thiya terug te roep omdat hy ’n paar ander vrae het.

Buite die hof wou hofgangers weet hoekom Courtney se ma, Juanita Pieters, nie meer die saak bywoon nie.

“Worry sy dan nie meer nie? Sy het net hof toe gekom toe sy getuig het.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters