3 dae gelede
Cop shop word gespring-clean
VRYF BLINK: Sharon Classen en haar span het ingespring en die cop shop in Athlone behoorlik gespring-clean.  ~ Foto Verskaf

DIE cop shop in Athlone het die naweek ’n behoorlik spring cleaning gekry.

Lede van Athlone se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die Athlone Youth Desk het ingespring en die polisiestasie van binne tot buite skoongemaak.

Volgens Sharon Classen, voorsitter van die GPF, is dit ’n gebaar om beter kommunikasie tussen die polisie en gemeenskap te bevorder.

Hulle het Saterdag vanaf 09:00 tot 14:00 gewerk om die polisiestasie se aanklagkantoor binne en buite skoon te maak.

Classen sê: “Ons beoog om stuk vir stuk die hele polisiestasie skoon te maak. Ons weet hulle het altyd ’n tekort aan hande om by alles uit te kom.

“Dit is om trots te skep in ons polisiestasie en om aan die beamptes wat daar werk, te wys dat die gemeenskap omgee.

“As ons saamwerk, kan daar meer uitgevoer word en die gemeenskap kan beter bedien word.

“Ons het die vloere geskrop, die vensters gewas en die plek afgestof.

“Ons het ook die gras buite die polisiestasie gesny en die tuin rondom skoongemaak.

“Ons het die papiere en vullis opgetel.

“Daarna het ons worsrolletjies gemaak en koeldrank vir die polisielede uitgedeel.”

Volgens Classen was dit die ondervoorsitter se idee van spanbou om beter bande met die polisie te smee.

Jamie Lakay van die Youth Desk sê: “Ons het van die jeug se kant af die polisie­forum gehelp om die kantore en kombuis van die polisiestasie skoon te maak. Dit was ons manier om te wys ons is bereid om meer betrokke te raak en met die polisie in die gemeenskap saam te werk.

Probeer

“Ons as jeug wil ’n verskil maak en ons hoop hulle wil ook.”

Kyle Mulder, ook van die Youth Desk, sê: “As lid van die Youth Desk wil ek graag ’n positiewe invloed in die gemeenskap hê.

“Daar is baie bergies wat voor die polisiestasie slaap en die plek bemors.

“Ons probeer om die polisiestasie meer toeganklik vir die publiek te maak.

“Die publiek moet vry­moedig voel om die polisiestasie te besoek.”

Sers. Zita Norman, woordvoerder van die polisiestasie, sê: “Ons ondersteun die projek en werk graag met die gemeenskap saam. Ons is baie dankbaar en waardeer die mooi gebaar.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters