Verlede maand
Cop se projek kry baie hulp
HIERSO: Adrian Greeff het ’n hele koue wintersnag in ’n slaapsak deurgemaak om haweloses te help.  ~ Jonathan Lestrade

’N COP is mos nie iemand wat ander sal besteel nie ...

In dié geval het ’n cop met ’n hart van goud wel die harte van Sonlanders oop oë gesteel.

Son het vroeër vandeesweek berig hoe Adrian Greeff (37), ’n cop van die Ravensmead-polisiestasie, op sy verjaardag buite in die winternag se koue met bergies geslaap het om hulle te help.

Sedertdien stroom skenkings in vir sy inisiatief om hawelose mense te help.

Greeff was baie verras met die reaksie van die publiek en veral Son se lesers wat sonder skroom hul hart en beursie vir die haweloses oopgemaak het.

Hy help die organisasie Movement SA om klere, kos, komberse en speelgoed vir minderbevoorregtes in te samel.

Daarom het hy Maandag saam met haweloses buite die Ravensmead-polisiestasie geslaap. Hy het ook vir amper 300 mense kos, koeldrank en cupcakes gegee.

Sedert Son oor sy inisiatief berig het, is hy besiger as ooit tevore.

Greeff sê: “Ons besef nie altyd hoe bevoorreg ons is nie. Ek is dankbaar vir die baie klere vir kinders en grootmense wat ons gekry het.

“Daar is ook baie warm komberse wat ons volgende week aan die haweloses en minderbevoorregtes gaan uitdeel. Ons is ook dankbaar vir die blikkies kos wat ons ontvang het.

“Ons sou dit nie sonder die hulp van die publiek kon doen nie en is baie dankbaar daarvoor.”

Volgens Greeff kry hy baie oproepe van mense wat goed wil skenk. Hy moet dit nog gaan optel.

Gemotiveer

Hy sê sy hele lewe lank gaan sy hart altyd uit na homeless mense en veral ’n ou wat al 15 jaar buite die Ravensmead-polisiestasie slaap. Dis juis dié man wat hom gemotiveer het om tot aksie oor te gaan.

Oor die koue nag met net die sterrehemel as jou ceiling sê hy weer: “Verskriklik koud. Dit trek in mens se lyf in.

“Jy slaap onrustig en weet nie of skollies jou gaan beroof terwyl jy so weerloos is nie.”

Hy is die afgelope drie maande by Movement SA betrokke en het besluit dat hy nie net ’n naam op hul boeke wil wees nie, maar iemand wat ’n verskil maak.

Enigeen wat wil help, kan Greeff by 072 657 9177 skakel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters