23 dae gelede
Seun van cop vas vir 2 se moord
'n Polisieman se seun het op twee klagte van moord in die hof verskyn.  ~ Foto ter illustrasie

’N POLISIEMAN se tienerseun het Maandag in die landdroshof in Blue Downs op twee aanklagte van moord verskyn.

Dit volg nadat ’n man (54) en sy kleinseun (17) Vrydagaand in Adcock-straat in Wesbank doodgeskiet is. ’n Derde man (23) is ook gewond en sterk in die hospitaal aan.

Lt.kol Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, sê die voorval het omstreeks 20:15 plaasgevind.

Volgens ’n ingeligte is die cop se seun dieselfde aand in hegtenis geneem. Die moordwapen is na bewering die dienspistool van die polisieman van Wesbank.

Bendeverwant

Die polisie het op die wapen beslag gelê. Son verneem die vuurwapen is reeds vir ballistiese toetse gestuur.

“Die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek,” sê Traut.

’n Bron sê aan Son die voorval is bendeverwant en meen die koeëls was vir die 23-jarige bedoel.

Die 54-jarige man het glo probeer keer dat sy seun geskiet word toe hy in die kop geskiet is. Die kleinseun is ook in die kop geskiet.

Die verdagte het vlugtig in die hof verskyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters