Verlede maand
Cop onthou pang se bakkies
NIKS GELUKKIG: Pang het aan Son gesê hy is in die mang as gevolg van hoorsê- getuienis.  ~ _ASTRID FEBRUARIE

“DAAI is die een.”

’n Sersant verbonde aan die Delft-polisiestasie het só gereageer toe hy Moegamat Niezaam Moeniers, beskuldigde nr. 4, ook bekend as “Pang”, gister in die Kaapse hooggeregshof uitgeken het.

Pang is een van 20 vermeende lede van die Terrible­ Josters-bende wat teregstaan op 145 klagte, insluitend moord, poging tot moord, dwelmhandel en die oortreding van die Poca-wet.

Die sersant het gister getuig oor verskeie klagte waarvoor Pang teregstaan.

Hy was die ondersoekbeampte in ’n klag van poging tot moord en die besit van ’n onwettige vuurwapen.

Die voorval het op 12 April 2015 in Wallace-straat in Delft-Suid plaasgevind.

Volgens die sersant het hy omstreeks 09:00 op 12 April 2015 ’n dossier ontvang vir ’n saak van ’n poging tot moord.

“Toe ek deur die verklaring lees, het ek uitgevind dat die slagoffer na die Tygerberg-hospitaal geneem is.

“Ek het toe opgevolg by die hospitaal, waar ek die slagoffer in die trauma-eenheid gekry het,” getuig hy.

Die sersant getuig dat hy ’n onderhoud met die slagoffer gevoer het.

“Hy was in pyn. Ek het hom gevra of hy weet wie hom geskiet het.

“Hy het aan my gesê hy weet en ken die persoon net by sy bynaam, Pang.”

Die sersant sê hy het die slagoffer toe gevra waar hy was toe Pang hom geskiet het.

“Hy het vir my gesê hy het voor Wallace-straat 32 in Delft-Suid gestaan.

Die beskuldigde het hom genader, sy vuurwapen uitgehaal en op hom geskiet voordat hy van die toneel gevlug het,” het die sersant getuig.

Hy het die slagoffer gevra of hy weet waar Pang woon en die slagoffer het die adres toe aan hom verskaf.

“Ek het met my kollega na die adres gegaan en ’n vrou het die deur oopgemaak toe ek by die betrokke adres aan die deur klop.

“Sy het my ingelig dat sy Pang se ma is. Ek het vir sy regte naam gevra en sy het dit vir my gegee.”

Die sersant getuig dat Pang se ma aan hom gesê het hy woon nie daar nie, hy kom en gaan net.

“Ek het ’n boodskap gelos en haar gevra om vir hom te sê dat ek hom soek.”

Die sersant getuig sy kollegas het geweet hy soek na Pang en hulle het hom later gearresteer.

Opgestaan

Toe die staatsaanklaer vra of hy die persoon bekend as Pang onthou, het hy duidelik gesê: “Ja, definitief.”

Die sersant wys hom toe uit en sê aan die hof: “Dáái is die een.”

Pang het opgestaan, sy arms gevou en die sersant stip aangekyk.

Die verhoor gaan Maandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters