2 maande gelede
Cop-moord: 3 vas
moordtoneel: Die cops se eenheid teen bendes het Maandag drie verdagtes gearresteer vir die moord op ’n cop en poging tot moord op sy kollega.Foto: LEON KNIPE  ~ 

DRIE verdagtes is Maandag in Operasie Lockdown in Wesbank gearresteer vir die moord op ’n cop.

Die eenheid teen bendes het die verdagtes gearresteer vir die moord op AO Hilton Josephs (52) van die Mfuleni Polisiestasie.

Hulle is ook gearresteer vir poging tot moord op sy kollega konst. Terence Mostert (29), wat gewond is.

Josephs was 32 jaar in die polisiediens. Hy het afgesterf ’n uur na sy aankoms Sondagaand in die Tygerberg Hospitaal.

Mostert, wat die afgelope drie jaar ’n polisieman was, is in die nek getref. Hy is in ’n ernstige toestand in die hospitaal.

Een van die drie verdagte is ook gearresteer vir ’n dubbele moord wat Saterdagoggend in Wesbank gepleeg is.

Volgens brig. Vish Naidoo, ’n polisiewoordvoerder, het Josephs en Mostert die verdagtes Sondagaand buite ’n tavern in Diepwaterstraat gekonfronteer toe op hulle losgebrand is.

Naidoo sê: “Die een polisielid is in die kop getref en is later in die hospitaal dood. Sy kollega is in die nek getref en is tans in ’n ernstige toestand in die hospitaal.”

Naidoo sê die blitspatrollie en eenheid teen bendes het die gebied Maandagoggend gepatrolleer toe hulle die verdagtes gewaar het.

Die een (25) wat vir die dubbele moord gesoek is, is in hegtenis geneem, maar die ander twee het gevlug.

Valke

Naidoo sê: “Lede van die eenheid teen bendes het die ander twee verdagtes, wat 30 en 31 jaar oud is, die aand vasgetrek.”

Die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla John Sitole verwelkom die arrestasies.

Die Valke ondersoek die saak nou.

Die verdagtes sal vandag in die Blue Downs Landdroshof verskyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters