9 dae gelede
Cop en vriend in kar geskiet
VERBAAS: Mandlakhe Vutula sê sy vermoorde nefie, Phindile Vutula, was nie ’n moeilikheidmaker nie.  ~ Anele Mfazwe

DIE moord op ’n afdiens polisieman is ’n raaisel vir sy familie én die polisiemag.

Konst. Phindile Vutula (33) en ’n vriend is Dinsdagmiddag in Mfuleni doodgeskiet.

Vutula was by die Philippi-Oos-polisiestasie gestasioneer. Hy was die afgelope vier jaar ’n cop.

Die voorval het net ná 16:00 in Olifant­straat, Extension 6, plaasgevind toe onbekende mans op Vutula se silwer Ford Focus losgebrand het.

Nog ’n vriend wat saam met die slagoffers in die kar gesit het, is in die hospitaal opgeneem nadat hy in sy arm getref is.

Volgens Vutula se oom, Mandlakhe Vutula (44), is sy neef ses keer geskiet.

Mandlakhe sê hy het ’n oproep ontvang dat Phindile geskiet is.

Toe hy op die toneel aankom, was die gebied al afgebaken, maar hy het gevra om in te gaan om te sien wie die slagoffers is.

Mandlakhe sê verder: “Ek is ingelaat, want ek is ook ’n polisieman. Toe ek by die kar aankom, het ek gesien dis sy vriend wat op die driver se sitplek is en hy is dood.

“Toe sê een van die polisiemanne aan diens dat ’n ander slagoffer al per ambulans weggevat is.”

Mandlakhe vertel verder hy het sy neef later by die lykhuis gaan identifiseer, want hy het dit nooit tot by die hospitaal gemaak nie.

Besittings

Hy sê: “Ek kan nie sê wat gebeur het of hoe nie, want ek was nie self daar nie, maar die voorval maak nie sin nie.

“Daar is niks van hul besittings gevat nie. Die skieters het net in ’n ander voertuig agter sy kar gestop, tot by sy kar gestap en op hulle losgebrand.

“Ek het by die lykhuis gevra om sy skietwonde te sien en ek is toegelaat.

“Hy is ses keer geskiet. Al die skietwonde was aan sy bolyf gewees, behalwe een wat in sy regterbeen was.

TONEEL: Die slagoffers het in dié silwer Ford Focus gesit toe die onbekende gunmen op hulle geskiet het. Foto Verskaf

“Ek weet regtig nie wat tot die voorval kon gelei het nie, want my neef was ’n eerbiedige jong man gewees.

“Baie hardwerkend en nederig. Hy was die een op wie sy familie staatgemaak het om sy ouerhuis in die Oos-Kaap op te bou.”

’n Polisiewoordvoerder, kol. Andrè Traut, sê daar is nog geen arrestasies gedoen nie.

Enigeen met inligting oor die voorval word gevra om die polisie se Stop Misdaadsentrum by 08600 10111 te bel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters