2 jaar gelede
Cop aangeval
vol gate: Kapt. Jacques Edas het darem die Nyanga-polisiekantoor gehaal. Foto: Leon Knipe  ~ 

DIE Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, Dan Plato, sê hy is geskok deur die aanval op ’n polisiekaptein wat van diens af was.

Kapt. Jacques Edas (45) is Vrydagmiddag by KTC in Guguletu gewond.

Sy aangenome seun, Jeth­ro Fritz (10), wat saam met hom in die kar was, is op die toneel dood toe hy in sy kop geskiet is.

Volgens ’n polisiebron het Edas tot by die Nyanga-polisiekantoor bestuur nadat hy self in sy bors en arms gewond is.

Hy het voor die cop shop se deur gaan parkeer en om hulp geskree.

Van daar af is hy na die hospitaal geneem vir behandeling.

Son verneem Edas het saam met Jethro, sy kleinkind en ’n Chinese sakevrou gery toe drie onbekende mans sy BMW nader en op hulle losbrand.

Edas het die vrou by haar drankwinkel in KTC opgetel om haar na die Makro-winkel in Ottery te vergesel, waar sy van plan was om drank te gaan koop.

Die sakevrou, Lin Min, en Edas se kleinseun Jaymar Peterson (3) het die koeël­reën vrygespring en is nie gewond nie.

Plato sê: “Ek is altyd geskok deur enige aanval op ons SAPD-lede, want ’n aanval op hulle is ’n aanval op die staat.

“Ek glo die SAPD sal hul ondersoek doen en die oortreders aankeer.”

Plato was gister op pad Plettenbergbaai toe en sê hy vertrou hy sal Edas kan besoek sodra hy terugkeer Kaap toe. Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, bevestig die polisie ondersoek die voorval.

Teen druktyd gister was geen arrestasies nog gedoen nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters