Verlede maand
Chloe nog in duister oor klag
oukei: Chloe Collins is steeds in Oman waar sy wag om te hoor of sy aangekla gaan word.FOTO VERSKAF  ~ 

CHLOE Collins (23) van Kraaifontein weet steeds nie wat die klag teen haar in Oman is nie.

Sy word sedert 9 Mei in Oman aangehou.

Collins sou in dié land se hoofstad, Maskat, in die hospitality-bedryf gaan werk het.

Drie weke ná haar aankoms daar is sy egter gearresteer.

Dit het aan die lig gekom dat Collins se jonger broer in die Midde-Ooste gesoek word vir die moord op ’n taxidrywer.

Die broer se werkgewer het die familie ingelig dat hulle seun huis toe moet kom omdat hy ’n mental breakdown gehad het. In Suid-Afrika is skisofrenie by hom gediagnoseer.

Collins se familiewoordvoerder, Simone Carolissen, sê die broer is slegs ’n persoon van belang in die saak.

Positief

Carolissen sê gister hulle het fondse ingesamel vir sommige van die regskoste in Maskat.

“Chloe sal binnekort weet of sy verhoor gaan word. Haar lawyer daai kant sal my inlig wat vir wat gaan en hoe hulle prosedure werk.”

Sy voeg by dat Chloe se moed nog hoog is.

“Sy is positief, sy is oukei. Ons kommunikeer gereeld met die Suid-Afrikaanse ambassade en hulle check ook gereeld op haar.”

Carolissen sê egter hulle soek steeds antwoorde van die Omaanse ambassade.

“Al is Chloe positief, kan ons net dink waardeur sy gaan. Sy wil huis toe kom, sy wil haar familie sien. Sy wil weet wat die klagte teen haar is, maar sy kry geen antwoorde nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters