2 dae gelede
Cele vat voor
SLAGGEREED! Die cops is gister vir ’n onbepaalde tyd ontplooi tot die misdaadsweer gesond raak.  ~ Peter Abrahams

MISDADIGERS verdien nie eens om asem te haal nie!

Dít was gister die polisieminister, Bheki Cele, se harde boodskap aan Kaapse boewe.

Cele het amptelik sowat 200 polisiebeamptes en ’n squad op perde verwelkom. Dié dienaars van ander provinsies is onlangs in die Wes-Kaap ontplooi.

Benewens die perde is meer as 50 voertuie vir dié cops in die provinsie as versterking bygevoeg.

Volgens hom is die Wes-Kaap een van die taaiste misdaad-hotspots in die land – en dis veral geweldsmisdaad en dwelmhandel wat die provinsie lamlê.

Cele sê in die afgelope langnaweek alleen is meer as 50 moorde in Kaapstad aangemeld.

Hy sê: “As jy na die top-30-polisiestasies kyk waar daar die meeste moorde aangemeld is, is 10 van hulle in dié provinsie en veral in dié stad.

“Daar word ook die meeste sake van gendergeweld hier in die Wes-Kaap aangemeld.

“As gevolg hiervan gaan ons hier vertoef om te verseker dat ons hierdie plek kan skoonmaak. Ons gaan nie sê hoe lank dit sal neem nie. Maar ek kan waarsku dat die komende naweek een van ons besigstes gaan wees.”

Cele het geen doekies omgedraai in sy harde boodskap aan misdadigers nie.

Hy sê: “Ek praat van misdadigers wat die lewe ondraaglik vir inwoners in hierdie plek maak.

Jag

“Diegene wat vroue en jong mense verkrag, diegene wat by huise inbreek en roof. Diegene wat mense skiet, wat karre steel en beskadig en die wat ander wil doodmaak.

“Julle wat só wil maak, moet geen vrede hê nie en ons sal daarvoor sorg dat julle gejag word.”

“Die suurstof moet vir julle uitgesuig word. Julle mors net suurstof. Dís my waarskuwing vir misdadigers in die Kaap!”

Hy sê aan die nuut ontplooide cops: “Julle is hier om toe te sien dat misdadigers nie vrinne met die regering of enige besluitnemer is nie.”

Die Wes-Kaapse waarnemende polisiekommissaris, genl.maj. Thembinkosi Patekile, sê misdadigers se dae in dié provinsie is getel.

Hy raai boewe aan om liewer hulself aan die cops oor te gee.

Patekile sê: “Vir diegene na wie ons soek, julle weet wie julle is, dit sal beter wees om julself aan die polisie te gaan oorgee. Daar is nie ’n manier wat ons julle nié gaan kry nie!”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters