3 maande gelede
Cele óp van moorde op polisielede
ONS HELDE: Minister Bheki Cele steek ’n kers aan ter nagedagtenis aan die polisielede.  ~ Peter Abrahams

DIE nasionale minister van polisie, Bheki Cele, sê brutaliteit teen die polisie moet stop en mense moet ophou om hulle uit te kryt vir swartskape.

Cele het dít gister in Kaapstad in die gedenkdiens van sers. Mnakwazo Mdoko (47) en konst. Mninawa Breakfast (27) gesê. Dié twee bloues is Sondag in die vroeë oggendure in Bloekombos in Kraaifontein doodgeskiet.

Cele sê hy is moeg daarvoor om cops te begrawe en gedenkdienste vir hulle te hou.

Hy sê as dit van hom afgehang het, sou hy liewer by Mdoko en Breakfast se weduwees kom kuier het vir ’n paartie en nie om met hulle te simpatiseer nie.

Hy het dié statement gemaak­ omdat die media volgens­ hom skryf hy woon net dié geleenthede by om gesien te word.

Cele vaar uit: “Ek hou nie daarvan om hier te wees nie. Ek enjoy dit nie! Dit is nie deel van my lewe nie. Ek is ’n jolly persoon en hou daarvan om die lewe te geniet. As ons nie na dié geleenthede kom nie, wie gaan dit doen?”

Cele sê dis onaanvaarbaar dat sewe polisiebeamptes die afgelope week vermoor is.

Hy sê: “Ons ervaar pyn. Ons het nie die krag om heeltyd oor dié hartseer te praat nie.

“Niemand praat uit oor brutaliteit teenoor polisie­lede nie, maar almal hou aan praat oor polisiebrutaliteit teenoor mense.

“Niemand praat oor die lyke van polisiebeamptes nie. Dit lyk my daar is niks daarmee verkeerd as polisielede vermoor word nie.

“Ek kry seker nie genoeg oproepe hieroor nie en ek wag nog vir daai call ...

“Ons het baie goeie polisiebeamptes. Fokus op hulle, nie op die paar vrot appels nie.”

Conwe Flink, provinsiale voorsitter van die polisievakbond, Popcru, sê die aanslag op cops is ’n groot bekommernis en die moordenaars moet aan die pen ry.

Flink sê: “Ons moet bendegeweld en georganiseerde misdaad aanhou beveg.

“Ons kan nie meer toelaat dat dié elemente ons gemeenskappe bulldoze nie. Dit moet end kry! Geen gangster sal weer ons manne en vroue in blou vermoor nie.”

Flink vra Cele om te kyk na cops se danger pay, wat vanaf 2001 net R400 per maand beloop, en hul uitbetalings wanneer hulle sterf.

Aanval

Robert Bisset, die nuwe voorsitter van die Kraaifontein-gemeenskapspolisiëringsforum, het huilend vertel hoe Mdoko en Breakfast se dood hulle getref het.

BAIE TRANE: Die weduwee van konst. Mninawa Breakfast vertoef met blomme in haar hand by haar man se foto. Foto: Peter Abrahams

Hy sê enige een wat ’n frontline-werker aanval, sal die hoogste straf kry.

“Ons sit klaar met Covid; nou moet ons nog met bullets ook vermoor word. Kraaifontein is reeds in haglike omstandighede. Dis die capital van moorde.

“Mnr. Cele, ek vra dat julle onmiddellik iets aan die situasie doen. Ons moeders en vaders sien elke dag hoe hul kinders dood op die straat lê. Nou word ons frontline-werkers ook nog vermoor.”

Volgens Cele sal die twee cops ’n amptelike begrafnis ontvang omdat hulle Suid-Afrika gedien het.

Breakfast se begrafnis is volgende Saterdag in Oos-Londen en Mdoko s’n is die dag daarna in Middleton.

SO JAMMER: Minister Bheki Cele by die weduwee van sers. Mnakwazo Mdoko. Foto: Peter Abrahams
EERBETOON: Min. Bheki Cele voor die ry kruise van gevalle polisielede wat hul land gedien het. Foto: Peter Abrahams

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters