Verlede maand
Cele lê besoek af in die Plain
GESELS: Sulyman Stellenboom (regs) in gesprek met Bheki Cele.  ~ Peter Abrahams

“NEE, dis mos nou weer police minister-goete wat hier is, maar sodra die bullets vlieg, is hulle nêrens te sien nie.”

Die antie staan in haar doekie en overall op die hoeke van Cadillacstraat en Austinsingel in Beacon Valley, Mitchells Plain.

Sy is een van die nuuskieriges wat wil sien en hoor wat die nasionale minister van polisie, Bheki Cele, oor die onlangse skietvoorvalle te sê het.

Dis hier waar ses jong kinders en mans Saterdagaand geskiet is.

Twee van die slagoffers is op die toneel in Cadillacstraat dood. Die ander vier sterk nog in die hospitaal aan.

Die minister het gister die toneel besoek en ook ’n draai gemaak in Maureenstraat in Lost City, Tafelsig, waar vier mense Sondag geskiet is.

Al hierdie skietvoorvalle het in die bestek van drie dae plaasgevind.

Vermoor

Die algemene vrae op almal­ se lippe is hoekom die polisie nooit sigbaar is voor of tydens sulke voorvalle nie en hoekom die polisie altyd so lank met arrestasies vat.

Sulyman Stellenboom, een van die bekommerde inwoners, wou weet hoekom die minister ook nie die familie van die kinders besoek nie, maar wel die families besoek het van die polisiebeamptes wat Sondag vermoor is.

“Ek wil weet wat van die polisie se vyfjaar-veiligheidsplan vir ons gemeenskappe geword het?

“Hoekom is die twee polisiebeamptes se skieters gevang, maar hier parade die minister net rond?

“Dis nie ál die polisiebeamptes nie. Daar’s dié soos brigadier Goolam wat sy moer vir ons gemeenskap afhardloop.

“Ons makeer nóg sulke tipe manne hier en nie net mense wat ons heeltyd na hul kantore gaan verwys nie.”

Cele het toe verduidelik die antwoord lê in die gemeenskap self.

“Soos ons nou hier geloop het, sien ek dis ’n mooi gemeenskap.

“Dit laat ’n mens wonder hoekom mense mekaar doodmaak.

“Maar ek moet sê, die antwoord lê in die gemeenskap. Jong mense moenie in die kloue van druglords beland nie. Ons almal weet dis dwelms en onwettige vuurwapens wat in die strate rondgaan.

“Die polisie kan lewens red, maar die gemeenskap moet saam met ons werk, want almal weet wie die skieters of bendelede is.”

Cele meen hoewel niemand nog vir die Mitchells Plain-skietvoorvalle gearresteer is nie, is hulle wel op die spoor van ’n verdagte wat by die Tafelsig-skietvoorval betrokke was.

Ondersteun

“Ons het ’n naam, maar ons kan dit nie deel nie.

“Saam met dit het die Wes-Kaapse polisie meer as 20 hoëprofiel-arrestasies uitgevoer. Maar soos ek vroeër gesê het, die gemeenskap moet ook die polisie ondersteun.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters