12 dae gelede
Cele laaste wat moet kla, sê JP
Nie beïndruk: Die Stad se mayco-lid vir veiligheid en sekuriteit, JP Smith, sê die polisieminister, Bheki Cele, moet ophou jok.  ~ Peter Abrahams

JP SMITH sien rooi oor die polisieminister, Bheki Cele, se aantygings die afgelope naweek.

Smith, die mayco-lid belas met veiligheid en sekuriteit, sê Cele het “gelieg” toe hy inwoners in Mitchells Plain toegespreek het.

Son het Maandag berig Cele het ’n gemeenskaps- indaba by die Rocklands-sportterrein gehou waar hy teen Smith en ander beamptes van die Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse regering uitgevaar het oor hul af­wesigheid.

Smith kap terug en sê hulle het nie die indaba bygewoon nie, want Cele het hulle nie genooi nie.

Hy sê: “Minister (Cele), jy het ons nie genooi nie. Ons het eers daarvan gehoor toe gemeenskapslede vir ons video clips aanstuur van die leuens wat jy besig was om uit te skree.

Gesny

“Jy vra dat almal saamwerk, maar dis presies wat ons gedoen het toe ons ’n ekstra 1 000 wetstoepassers opgelei en hulle ontplooi het na die einste polisiestasies waar jy polisie­lede weggevat het.”

Volgens Smith is Cele die laaste een wat oor misdaadsyfers moet moan, want hy is die een wat die begroting van sy VIP-eenheid vermeerder het nadat hy die budget vir die speurders gesny het.

As gevolg daarvan sit dié ondersoekers nou met ’n gemiddelde 250 sake per speurder, sê Smith verder.

“Jy (Cele) het beskerming orals waar jy gaan,” voeg hy by.

“Hierdie inwoners dra nie bulletproof vests nie. Gevolglik dra ek self ook geen bulletproof vests nie.”

Smith sê verder Cele moet die Stad en die Wes-Kaapse regering die kans gee om saam te werk deur hulle die mag te gee om die polisie te bestuur.

“En ons sal jou wys hoe die polisie bestuur moet word,” voeg Smith by.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters