6 maande gelede
Byna nóg ’n kind kwyt
Shaskia Michaels  ~ Foto Verskaf

TERWYL die corona­virus almal in die land paniekerig maak, is die familie van Shaskia Michaels geruk deur die gedagte dat hulle amper nóg ’n kind verloor het.

Shaskia sou volgende maand haar 11de verjaardag gevier het.

Sy was net vier jaar oud toe sy in 2013 verdwyn het.

Vir die familie sal 5 September altyd ’n droewe dag wees.

Dis die dag toe hulle poppie spoorloos verdwyn het terwyl sy buite haar huis gespeel het.

Haar verdwyning het die gemeenskap van Mitchells Plain geruk.

’n Paar jaar voor dit het Kauther Bobbs (5) ook net spoorloos verdwyn. Kauther het twee huise van die gesin Michaels in Freedom Park gewoon.

Die twee meisies word steeds vermis.

Verlede week het die familie amper dieselfde trauma beleef toe hulle na Shaskia se jongste sussie, Ruwayda, gesoek het.

Ruwayda (7) was volgens ouma Roslyn Farao ver­onderstel om skool toe te gaan, maar sy het nooit daar opgedaag nie.

Weggesteek

“Soos ek verstaan, het sy haar agter die hokkie weg­gesteek en na haar ma se boyfriend gegaan.

“My man het skool toe geloop om te kyk of Wayda nie by die skool is nie.”

Farao sê haar nerves was klaar toe sy die oproep by die werk kry.

“Toe ek die phone call kry, het die gemeenskap reeds uitgekom om te help soek.

“Hulle het weer in hulle massas uitgekom.

“Toe die boyfriend hoor dat hulle vir Wayda soek, het hy die kind huis toe gestuur.”

Farao vertel sy weet nie wat om te dink nie, want die gevoel dat hulle amper nóg ’n kind verloor het, het haar omtrent geruk.

“Ek was so upset toe ek uitvind, want sê nou ons het nog ’n dogtertjie verloor?

“Ek wil net vir almal in ons gemeenskap dankie sê.”

Anthea Michaels, Shaskia se mammie, vertel ook haar hele wêreld was omgekeer toe sy uitvind hulle soek nog een van haar dogters.

“Dit was asof ek daai dag herleef.

“Ek wou net hê dat ons my meisiekind vind, net soos ek steeds vir Shaskia wil vind.”

Ruwayda is nou veilig by die huis. Die familie wil graag almal bedank vir hulle hulp in dié tyd.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters