Verlede maand
Buurbrak hap handjie by hek
BESEER: Abrahams Januarie en sy seuntjie, Zeo Januarie. Foto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ 

’N BABASEUNTJIE van Grabouw is nou geneig om sy familie te byt nadat ’n hond laas week sy vingerpunt stomp afgebyt het.

Die 17 maande oue Zeo Januarie het die tip van sy regtermiddelvinger in die voorval verloor.

Die voorval het 09:30 plaasgevind in Bosbou Heights, waar Zeo by sy ouers en ouma woon.

Sy ouma Angeline Jordaan beskryf die voorval as aaklig en traumaties.

Volgens Jordaan was sy besig met wasgoed toe sy hoor hoe ’n ander kind om hulp kom skreeu.

“Ek het uitgegaan en gesien dat die hond die kind by die hand vas het en hom probeer deurtrek en die ander hond staan nader.”

Jordaan sê die kleintjie moes uitgeglip het toe haar broer die huis verlaat en nie die deur reg toegemaak het nie.

Volgens Jordaan het Zeo se pa, Abrahams Januarie, toe uitgekom en sy kind se hand probeer loskry uit die hond se bek.

“Hy (Januarie) het plat op die grond gelê en sy hand gegryp en aan dit getrek om dit los te kry van die hond se bek.”

Januarie sê: “Toe ek sy hand loskry, sien ek dat die hond klaar sy vinger afgebyt het. Hy het baie gehuil en hy het net aan my geklou. Ek voel baie hartseer en kwaad oor wat gebeur het.”

Skrikkerig

Die ouma sê die kind het gelukkig nie heeltemal onderdeur die hek gegaan nie, anders kon dit erger gewees het.

“Hy is erg geaffekteer deur die voorval.

“Hy slaap nie en hy is baie skrikkerig en hy is nou geneig om aan óns te hap,” sê sy.

Januarie sê hy was baie kwaad. Hy het die honde met klippe gegooi.

“Ek dink die honde is baie gevaarlik en dat hulle dit weer kan doen en ek voel stappe moet gedoen word teen die eienaar,” sê Januarie.

Maar die eienaar van die honde, Heinrich Davids, sê dit is nie sy skuld dat die kind gebyt is nie.

“Ek was by die werk toe ek van die voorval hoor. Ek is vertel dat die kind tot by die hek gekruip en sy hand onderdeur die hek gesit het.

Nalatigheid

“Ek is jammer vir wat met die kleintjie gebeur het, maar die ouers moet verantwoordelikheid neem vir hul kind.

“Dit is hul eie nalatigheid wat tot dit gelei het. My honde was in die jaart agter die hek, nie buite nie,” sê hy.

Davids sê ook sy honde het nog nooit voorheen iemand gebyt nie. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters