Verlede maand
Busryer word ’n hero
NEEM STUUR OOR: Ashley Europa het eerste aan die ander mense op die bus se veiligheid gedink.  ~ Jonathan Lestrade

DIT kon soveel erger gewees het.

Maar die vinnige optrede van Ashley Europa (24) het vir talle buspendelaars die grootste Krismisboks ooit gegee – hul lewe wat gespaar is.

Europa is die ou wat talle Golden Arrow-pendelaars moet bedank omdat hy agter die bus se wiel ingeklim en hulle na veiligheid vervoer het.

Die bus se insittendes is Dinsdagaand op die roete vanaf Kaapstad beroof.

Held

Dit het die driver van die bus so die skrik op die lyf gejaag dat dié weggehol het.

Europa, van Tafelsig in Mitchells Plain, word nou ’n held genoem omdat hy die pendelaars veilig gaan aflaai het.

Son het gister met Europa oor sy vinnige optrede gesels.

Hy is geen gekwalifiseerde busdrywer nie.

Hy sê: “Dis te danke aan my pa se groot Nissan Sky­line bestuur dat ek geweet het hoe om bus te ry.”

Hy vertel wat daai dag gebeur het: “Ons het soos gewoonlik op die bus in Kaapstad geklim.

“Toe ons by Philippi kom, het die inspector ingeklim omdat die drywer hulle in kennis gestel het dat iets op sy bus nie reg is nie.

“Die inspector het toe almal se tickets gecheck en oor die radio gepraat en die drywer ingelig dat alles clear is om te ry. Toe klim die inspekteur van die bus af.

“By die next robot in Brown’s Farm het ek net gehoor: ‘Jy!’ En ’n ou demand my foon met ’n gun.

“Ek wou dit nie glo nie en toe wys hy my die maga­zine. Toe gee ek my foon.

“Toe sien ek hoe hy twee vroue voor my slaan en klap. Eventually is almal gerob en die skelms het uitgespring.”

Intussen het die bus­drywer gestop, uit die bus gespring en begin weghol.

Europa vertel: “Ek het die drywer geroep, maar hy het ál aan gehol.

“Toe hardloop ek en spring agter die stuurwiel in. Ek het almal verseker als is oukei en dat ek elkeen by sy busstop sal aflaai.

“Ek weet nie hoe nie, maar als het glad verloop. Die mense het even die knoppie gedruk sodat ek weet waar om te stop.

“Hulle het my bedank oor hulle veilig uit dit gekom het.

“Ek meen, ek is eintlik nog so jonk en ek het soveel mense se veiligheid in my hande gevat.”

Op sy way om die meisie wat geslaan is, by die polisiestasie af te laai, het ’n cop die bus gestop.

Europa, ’n cleaner by die V&A Waterfront, sê die inspector het hom verseker dat die polisie nog by hom sal uitkom vir meer inligting.

“Al wat ek wou hê, is ’n dankie oor dinge lelik kon uitdraai.”

BOOSDOENERS: Ashley Europa wys hoe ’n rower hom met ’n wapen gedreig het. Foto: Jonathan Lestrade

Voorgekeer

Hy voeg by: “As die bus- mense my ’n job aanbied, sal ek dit vat. Ek weet dat ek passasiers se veiligheid as eerste prioriteit sal stel. Dis ál wat daai tyd deur my mind gegaan het.”

As die cop nie die bus voorgekeer het nie, wat sou hy met die bus gemaak het?

Europa sê: “Ek sou dit huis toe gery het en die next dag die bus werk toe gery het.”

Bronwen Dyke-Beyer, ’n woordvoerder vir die busmaatskappy, het die voorval bevestig.

Sy sê: “Dit het Dinsdag omstreeks 19:50 op Govan Mbeki-rylaan gebeur.

“Een van die passasiers is in die voorval beseer, maar die besonderhede rondom dit is nog nie bekend nie.”

Sy bevestig dat Europa die bus in die krisis bestuur het.

Sy voeg ook by dat hulle Europa nog hieroor gaan kontak.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, sê die cops ondersoek hierdie gewapende rooftog en voeg by dat niemand in dié stadium al gearresteer is nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters