10 maande gelede
Bullets begin: Bad Boy se broer afgemaai
Slagoffer: Brandon Goodwill is vroeg gister­oggend vol lood gepomp.  ~ 

DIE broer van ’n vermeende dikding van die Bad Boys-bende is eergister douvoordag in ’n koeëlreën afgemaai.

Brandon “Bal” Goodwill (25), die pa van ’n eenjarige seuntjie, is in die bors geskiet en nog ’n man is ernstig gewond.

Goodwill, van Bonteheuwel, en nog drie mans was gister omstreeks 04:55 op pad na die groentemark in Gunners Circle, Epping, waar hulle blykbaar gewerk het.

Hulle het in ’n blougroen Opel Corsa gery toe hulle deur ’n swart Volkswagen Golf GTI agtervolg is.

Naby die groentemark het mans uit die Golf op hulle begin losbrand.

Goodwill en nog ’n man wat voor in motor gesit het, is getref.

Die mans in die Golf het verby hulle gery en hulle voor in die pad ingewag.

Twee mans het uit die Golf geklim en toe verder op die motor losgebrand.

Goodwill is in die motor dood. Sy vriend wat voor langs hom gesit het, is swaar gewond. Hy is per ambulans na die hospitaal geneem.

Die twee mans wat agter in die motor gesit het, het egter ongedeerd daarvan afgekom. Hulle het van die toneel af weggehardloop.

Die cops se forensiese span het die moordtoneel ure lank gefynkam terwyl die pad vir verkeer gesluit was.

Meer as 30 koeëldoppies is op die toneel opgetel en die Corsa was vol gate geskiet.

’n Familielid het op die toneel bevestig dat Goodwill se broer die leier van die Bad Boys in Bonteheuwel is.

Die familielid sê oor Goodwill: “Hy was ’n rustige mens en nie ’n gangster nie.

“Die polisie gaan sy motor na Stikland neem vir verdere forensiese toetse.”

vermoor: Brandon Goodwill (25), die broer van ’n Bad Boy-bendeleier van Bonteheuwel, lê gisteroggend dood agter die stuurwiel. Foto’s: FACEBOOK
Valkoë: Die cops se forensiese span fynkam die moord­toneel vir leidrade.Foto: PETER ABRAHAMS

Angus Mckenzie, wyksraadslid in Bonteheuwel, sê: “Ons vrees dat nog skietery nou gaan volg, want dit is ’n bendeleier se broer wat doodgeskiet is.

“Die skietery het al Maandagaand begin en het gister heeldag aangegaan. Van die skole in die omgewing het hul leerders vroeg huis toe gestuur.”

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, is niemand nog gearresteer nie.

Sake van moord en poging tot moord is geopen.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters