2 maande gelede
Brutale dade skok die hof
Tickets: Ameerudien Peters en Abigail Ruiters, die beskuldigdes in die skokkende moordsaak, is nie meer ’n couple nie. Foto: Peter Abrahams  ~ 

MENSE was geskok toe die staatspatoloog getuig het watter hel Jeremiah Ruiters in sy kort lewetjie deurgemaak het.

Dr. Marna du Plessis het gister in die Kaapse hooggeregshof getuig die 17 maande oue seuntjie se tong was voorheen in twee geskeur, maar sy het ook nuwe snye opgelet.

Klein Jeremiah is op 12 Junie 2017 by die Factreton-kliniek dood verklaar nadat Ameerudien Peters met hom daar opgedaag het.

Dié was tot onlangs nog die ma, Abigail Ruiters, se berk.

Die twee staan albei tereg vir die moord op Jeremiah, asook die mishandeling van sy twee ouer sussies.

Du Plessis het die nadoodse ondersoek behartig. Sy het getuig oor die trauma aan Jeremiah se mangels, keel, oë en mond.

Die getuienis het veral gegaan oor die trauma aan die mangels aan die agterkant van die keel.

Du Plessis het getuig die letsels dui daarop dat die mangels seergekry het weens stomp geweld aan die voorkant van die gesig of dalk deurdat ’n voorwerp in die kind se mond gedruk is.

Die patoloog het ook getuig daar was twee vars snye aan Jeremiah se tong.

Die hof het gehoor die tong was vroeër in twee geskeur, maar dié wond was ten tyde van sy dood reeds genees. Dit het wel ’n erge letsel gelaat.

Die kindjie het ook bloeding aan die agterkant van albei sy oë gehad.

Du Plessis het getuig toe sy die oë vir nadere ondersoek verwyder het, was daar ’n perserige verkleuring naby aan die oog en die senuwee aan die agterkant van sy regteroog.

Daar was ook bloeding aan die linkeroog.

Kraak

Ook dié bloeding hou verband met stomp geweld.

Die hof het ook gehoor die kraak aan die agterkant van Jeremiah se skedel is weens stomp geweld.

Dit verklaar ook die bloeding aan sy oë.

Die hof het verder gehoor Jeremiah se neus was gebreek. Die kraakbeen aan die regterkant van sy neus het geskuif en was sigbaar.

Du Plessis het voorts getuig die besering het nie reg genees nie.

Jeremiah se gebreekte neus was – soos met soveel van die ander beserings – die gevolg van stomp geweld.

Du Plessis het verder getuig daar was trauma aan Jeremiah se stembande.

Aan albei kante kon ’n rooi lining gesien word.

Sy het aan die hof verduidelik hierdie rooiheid is nie normaal nie.

Dit hou verband met trauma aan die kind se nek.

Dís veroorsaak deur ’n soort van drukking.

Terwyl die patoloog getuig het oor die vieslike trauma waardeur die kind gegaan het, het Ruiters en Peters hulle oë weggekeer en na die grond gestaar.

Die staatspatoloog getuig vandag verder.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
7 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters