12 dae gelede
Bruin lewens tel mos ook
DIT KOOK: Die betoging in Bellville-Suid is op die punt om te begin ruk.  ~ Jonathan Lestrade

“ONS mense se oë is besig om oop te gaan!”

Só sê Vanessa Adriaanse van Heideveld wat gister saam met haar gemeenskap hul frustrasies in ’n protes­betoging uitgebasuin het.

Die grootskaalse protes gister volg nadat die Kaapse drukgroep Gatvol Cape­tonian aangekondig het daar gaan ’n total shutdown oral in die Kaapse metro wees.

Dit was die tweede keer sedert Augustus 2019 dat die groep protesteer.

Dié keer is dit weer vir presies dieselfde redes: Om backyard dwellers se situasie aan die groot klok te hang.

Die groep beweer dat nog niks gedoen is om die lewe van backyard dwellers te verbeter nie.

Hy doen ook ’n beroep op die regering vir werkgeleenthede.

Dreig

Die groep voer ook aan die situasie het die afgelope jaar erger geword en hulle is nie nader aan ’n oplossing nie.

Hy dreig in ’n persverklaring dat hy sal aanhou met shutdowns totdat hy gehoor word en optrede sien om dié kwessies te hanteer.

Adriaanse sê hulle vat hul kwessies pad toe omdat hulle gatvol is en die tyd nou ryp is om gesien en gehoor te word.

Sy sê: “Ons word exclude van geleenthede vir beter behuising en werk.

“Ons main pain is dat ons raad niks vir ons doen nie! Niks om vir ons te help nie!”

GATVOL: Vanessa Adriaanse sê sy en die Heideveld-gemeenskap is moeg daarvan om pal misgekyk te word. Foto: Jonathan Lestrade

Adriaanse sê mense is stukkende huise gegee en niks word gedoen om dit reg te maak nie.

Hy sê: “Hier is mense wat al 40 jaar vir huise wag. Ander woon in ’n squatter camp hier in Heideveld, een waarvan baie mense nie weet nie. Hulle word nie raakgesien nie.”

Adriaanse doen ’n beroep op die regering om hulle te besoek en te sien hoe dié mense regtig lewe.

Sy sê: “Hier is nuwe huise gebou, maar wanneer dit reën, kan jy nie eens by jou huis uitkom nie.

“As dit nie water is nie, dan is dit k*k wat opstoot hier by ons plekke.

“Hoe sien hulle dan vir ons? Is ons dan nie normale mense nie? Moet ons net aanhou suffer?”

Adriaanse sê om als te kroon, word op hulle neergesien wanneer hulle kinders drugs gebruik.

Sy meen: “Ons almal gaan deur dinge. Hulle wil nie vir ons kinders werk-opportunities gee nie, maar pensioners kry werk – hoe is daai regverdig?”

WAT VAN ONS? Betogers in Heideveld sê hulle weet nie meer tot wie hulle hulle moet wend vir hulp nie en wil weet wanneer hulle werkgeleenthede en behuising gaan kry. Foto: Jonathan Lestrade

Adriaanse sê hul kinders is die toekoms en hulle as ’n gemeenskap sal aanhou baklei vir hulle en vir gelyke opportunities.

In Bellville-Suid het ’n protes net so hard gekook.

Opgedaag

Daar is klippe gegooi en sowat vier mense is op die toneel in hegtenis geneem.

Past. Calvin Fouldien van Bellville-Suid sê die mense staan op omdat hulle werk soek.

Fouldien sê die mense was peaceful totdat die polisie opgedaag het.

Past. Ivan Botha sê die polisie het gekom en gesê “f*kk*f”.

Botha vertel; “Ons het aan hom gesê ’n mens praat mos nie so nie. Daai het olie op die vuur gegooi.”

Fouldien sê mense is diep ongelukkig oor werkloosheid en dat die jong mense uit frustrasie optree.

Die pastor sê: “Ons diskrimineer nie teen swart mense nie oor almal van kleur swaarkry.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters