11 dae gelede
Brouer wil nou hof toe
ALTERNATIEF: Die SAB voer aan taverns moes oop gebly en net takeaway booze verkoop het.  ~ Netwerk24

SUID-AFRIKAANSE Brouerye (SAB) gaan die nasionale regering hof toe sleep oor die verbod op die verkoop van alkohol.

SAB, Suid-Afrika se grootse drankvervaardiger, meen dié verbod is ongrondwetlik.

Dit kom nadat pres. Cyril Ramaphosa sowat ’n week gelede weer drankverkope verbied het toe hy die land na ’n vlak 3-inperking teruggevat het.

SAB sê in ’n persverklaring hy steun die regering se kommer oor die tweede golf en het al in 2020 hard gewerk om die regering te help oplossings vind vir die invloed van drank in die pandemie.

Die maatskappy sê hy steun die staat se pogings om die pandemie onder bedwang te bring deur onder meer ’n vroeër curfew en beperkte drankverkope.

“Ons stem egter glad nie saam met nog ’n algehele verbod op die verkoop van alkohol nie,” sê hy.

Beskerm

“SAB is van mening enige verbod, onder meer die huidige een, gaan ver verby wat redelik en nodig is om die virus se verspreiding onder bedwang te kry.

“Dit ondermyn verskeie regte wat deur die grondwet beskerm word. Dis onder meer die reg om handel te dryf, die reg tot menswaardigheid, privaatheid en die reg tot liggaamlike en sielkundige integriteit.”

SAB sê hy was ’n party in die drankbedryf wat op 28 Desember vertoë aan die regering gerig het om alternatiewe tot ’n volskaalse verbod op die verkoop van alkohol te oorweeg.

Hy sê die regering het nie hierdie vertoë oorweeg nie.

Dié voorstelle sluit in die beperking op verkope in taverns na slegs vir off-site gebruik. SAB glo dié beperkings, saam met die vroeër curfew, sou kon help om infeksies af te bring.

Hy sê sowat 165 000 mense wat in die drank­bedryf gewerk het, het reeds hul werk weens die vorige verbod verloor.

  • Intussen gis mense die regering se appèl teen laas jaar se uitspraak van die Kaapse hooggeregshof dat die verbod op sigaretverkope ongrondwetlik was, dui daarop hy wil weer sy “When People Zol” song sing.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering, het ’n nie-dringende aansoek by die appèlhof teen dié uitspraak ingedien.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters