2 maande gelede
‘Broer is dood oor ander man’
afgemaai: Die lyk van Ighshaan “Saan” Loubser lê gister op die sypaadjie langs ’n huiswinkel.  ~ 

’N VERMEENDE Bad Boys-bendelid en nog ’n persoon is gister in Bonteheuwel glo deur lede van die Americans­ geskiet.

Die een ou is dood en die ander is in die hospitaal opgeneem.

Die polisie soek nog die verdagtes.

Die voorval het gisteroggend tussen Assegaai-­ en Bonteheuwellaan plaasgevind.

Ighshaan “Saan” Loubser (40) is op die toneel dood nadat hy in die kop geskiet is.

Die tweede slagoffer, wie se naam nog nie bevestig is nie, is na die hospitaal gehaas. Volgens Loubser se stiefbroer, wat anoniem wil bly, is Loubser vermoor oor by wie hy was.

Die stiefbroer meen dis Americans wat hom geskiet het.

Hy beweer sy broer is geteiken omdat die ander man wat saam met hom daar gestaan het, aan ’n bende behoort.

Hy sê: “Hulle het Saan geskiet oor hy saam met die Bad Boy was.

“Maar hy is nie betrokke by sulke dinge nie.

“Hy het tot onlangs in Silvertown­ by sy meisie se ma gebly.

“Hy het nie by my gebly nie.

“Hy het ander familielede ook hier in Bonteheuwel by wie hy gebly het.”

Loubser was nie getroud nie, maar het wel ’n tienjarige seun, vertel dié stiefbroer.

Volgens nog ’n inwoner is die gewonde ou hoeka ook ’n paar weke gelede raak geskiet.

Ontstellende

Nog ’n verbyganger voeg by: “Dis hulle wat mense beroof. Hulle’s almal gemorste.”

’n Ontstellende video het gister kort ná die skietery op sosiale media die ronde gedoen.

Op die video word duidelik gesien hoe albei bebloede mans nog ’n bietjie kan beweeg.

’n Polisiewoordvoerder, konst. Wesley Twigg, bevestig die voorval en sê die cops ondersoek ’n saak van moord en poging tot moord.

Twigg sê verder: “Enigeen met inligting oor die voorval word gevra om Crime Stop by 08600 10111 te kontak.”

Hy het nie gereageer op die vraag of die voorval bendeverwant is nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters