21 dae gelede
Brassery op beach eindig só
Baie pyn: Francionette Faans se oog, skouer en heup is erg beseer.  ~ 

DRANK het waarskynlik die hoofrol gespeel toe drie mense – twee mans en ’n 12-jarige seun – in ’n ongeluk buite Somerset-Wes omgekom het.

Bladenn Faans (12), Romano Faans (32) en Henry Isaacs (38) is dood toe die Uber waarin 14 mense was Sondag omstreeks 17:30 op die R102 buite Somerset-Wes buite beheer geraak en teen ’n paal gebots het. Almal in die kar is beseer.

Die mense van Kleinvlei het die oggend Strand toe gery. Die ongeluk het met die terugkomslag gebeur.

Kenny Africa, die Wes-Kaapse verkeershoof, het gesê die bestuurder van die motor is weens dronk­bestuur gearresteer. Die man is ’n Uber-bestuurder, maar was van diens af.

Een van die insittendes, Nicolaas November, vertel hulle was in die Strand om beach toe te gaan en almal was dronk.

“Toe ons terugkom, het almal in die kar gesing en gewieg. Die bestuurder het beheer verloor en die kar het teen ’n paal gebots.”

seer: Kristen Isaacs wys die beserings aan haar rug.

Drie skoolmeisies, Caline Claasen (15), Kristen Isaacs (14) en Lauren Arendse, is ook almal beseer.

Dit was gister Lauren se 16de verjaardag.

Die meisies is ná die ongeluk in die hospitaal opgeneem, maar almal is Maandag­oggend ontslaan.

Ingeklim

Lauren sê van hulle wou nog trein gevat het van die Strand af, maar toe die kar opdaag, het hulle maar ingeklim.

Sy het haar nek en skouer beseer en twee staples is in ’n wond ingesit.

Kristen het haar rug beseer en erge skaaf­merke opgedoen.

Caline het kwaai skaafmerke aan haar gesig. Sy het dit opgedoen toe sy oor die gras geskuur het nadat sy uit die voertuig geval het. Haar skouer is ook gebreek.

Nog drie mense, Monique Pennings (23), Michaela Goliath (17) en Cado Hufke (3), word steeds in verskillende hospitale behandel.

VERSLAE: Anthea Faans se seun, Bladenn, het gesterf.

Nog ’n driejarige seuntjie, Elijah Pennings, is ook beseer. Hy is by die huis met skraapmerke aan sy oor en kop.

Bladenn se ma, Anthea Faans (40), vertel haar seun was nog opgewonde omdat hy na ’n vaardigheidskool sou gaan.

“Hy was baie goed daarmee om met sy hande te werk en het nog ’n duiwehok gebou. Hy was nie baie lief vir skoolwerk nie, maar was lief vir speel.”

  • Drie mans van die perdeplaas Moutonshoek naby Piketberg is dood en nog twee beseer toe hulle die naweek op die N1 in ’n busongeluk was.

Die Greyhound-bus waarin die groep werkers vanaf Johannesburg gereis het, was Sondag omstreeks 06:00 tussen Laingsburg en Touwsrivier in ’n ongeluk. Die bus het in ’n trok vasgery wat eers ’n ander trok getref het. Karel Skirmaans, Andreas Swarts en Nico Ockhuis is in die botsing dood.

Altesaam 34 mense het die afgelope naweek in ongelukke op Wes-Kaapse paaie gesterf.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters