2 maande gelede
Brandweerman doodgeskiet
held: Kraaifontein is in rou oor Nicolus “Lippie” Pedro.Foto: facebook  ~ 
Rolmodel: Nicolus “Lippie” Pedro het vuur by die jonges op die rugbyveld geblaas.
held: Kraaifontein is in rou oor Nicolus “Lippie” Pedro.Foto: facebook

LIPPIE is nou vir ewig stil.

Dis omdat Nicolus Pedro (30), oftewel Lippie, Vrydag kort ná 14:00 voor sy ouerhuis in Eikefontein doodgeskiet is.

’n Ooggetuies sê twee mans het op dié voltydse brandweerman losgebrand en toe gevlug. Ses skote is op hom gevuur.

Lippie se neef Bronwyn Pedro­ vertel: “Lippie het nog so 30 minute gelewe. Hy is dood terwyl daar op die ambulans gewag is.”

Bronwyn vertel Lippie is geskiet toe hy van die brand­weer­stasie af huis toe gestap het.

Hy sê hartseer: “Ons familie het soveel vrae, maar eintlik wil ons net weet: Hoekom?

“Hy was so ’n goeie man en het so ’n groot verskil in soveel jong ouens se lewe gemaak.”

Die gemeenskap van Kraaifontein is in rou oor die rol­model wat hul kinders van die gevaarlike strate gehou het.

Lippie het entoesiasme vir rugby onder die jong mense in Kraaifontein gekweek.

Hy was ’n afrigter by die rugbyklub Hands & Heart en een van die main ouens van die suksesvolle sewesrugbyspan Rebels.

Die inwoners sê Lippie het die jong seuns van die strate gehou deur hulle op die rugbyveld te laat speel.

Talle boodskappe van medelye is op Facebook geplaas vir die gevalle gemeenskapsheld.

Sy familie sê die booswigte is nog nie aangekeer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters