9 dae gelede
Brand wen nie

“ONS is halfpad met die dak!”

Só sê ’n opgewonde Magda Kleyn van die Tehillah Sentrum in Elsiesrivier.

Dit kom egter nie sonder struikelblokke nie.

“Ons kry baie ondersteuning, maar daar is ’n sekere departement wat nie sy kant bring nie, maar ons gaan sterk aan,” sê sy.

’n Gedeelte van die sorgsentrum het laas maand in vlamme opgegaan. Kleyn het egter nie slange laat hang nie en het gou begin om die plek weer reg te maak.

“Daar is besigheidsmanne, die gemeenskap, en talle ander mense wat ingespring het om die sorgsentrum, wat 100 mense dien, te herstel,” sê sy.

Kleyn sê die brand het ook, ironies genoeg, goed gedoen.

’n Rot- en muisplaag het ook verbrand en is nie meer ’n probleem nie.

Sy sê die departement van public works het die asbestos wat in die boustruktuur was, verwyder. Hulle is baie bly dat dié potensiële risiko verminder is vir die inwoners.

Kleyn sê hulle vorder mooi en almal is verbaas oor hoe ver hulle al gekom het.

“Ons het al baie geld uitgegee sedert die herstelwerk begin het en ons gaan nog baie spandeer, maar dit is alles die moeite werd. Ons wil die beste vir die gemeenskap, inwoners en personeel gee,” sê sy.

Kleyn sê daar is nog baie om te doen, maar sy voel hulle kan oor ’n maand en ’n half heeltemal klaar wees.

Son het voorheen berig: “As China ’n groot hospitaal in ag dae kon bou vir die corona-virus, kan ek hierdie plek in ’n week klaar bou.

“Hoekom kan die Chinese dit regkry, maar ons nie?” vra Kleyn.

“Ons het baie goeie bouers en mense wat die herbou van die gebou ondersteun. Ons almal sien uit na die eind­resultaat,” sê sy.

Goedheid

Kleyn sê hulle het al klaar nuwe beddens, meubels en selfs ’n nuwe wasbak vir die kombuis.

“Hierdie dinge word geskenk uit die goedheid van mense se harte. Mense wat verstaan hoe belangrik die sorgsentrum is en wat dit beteken vir dié wat hier werk en hier woon.

“Ek is so dankbaar vir die ondersteuning,” sê sy.

Intussen sê Kleyn gaan sy ’n rooi tapyt uitrol vir die grand opening.

“Ons as gemeenskap moet na mekaar omsien. So, laat ons die sentrum beskerm en dié wat hier woon sodat ons meer en meer mense kan versorg,” sê sy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters