4 maande gelede
Brand eis seun
flink teen vlamme: Die brandweer het die brand op die derde en vierde verdieping van die Amdenhof-gebou in Voortrekkerweg, Bellville, binne ’n uur geblus.  ~ 

’N BUITELANDSE vrou het gister met baba en al van die derde ver­dieping van ’n brandende gebou gespring, en die dood vrygespring.

Die baba het niks oor­gekom nie, maar die ma het ’n rugbesering opgedoen.

’n Agjarige seun was egter nie so gelukkig nie.

’n Woordvoerder van die Stad Kaapstad, Theo Layne, sê die seun is dood in die brand.

Layne sê die brand het omstreeks 12:00 op die derde en vierde verdieping van die Amdenhof-gebou in Voortrekkerweg, Bellville, ontstaan.

Hy sê ’n vrou wat in die brand beseer is, het ook van die derde verdieping gespring.

Dié vrou is in ’n kritieke toestand in die Tygerberg-hospitaal.

Layne sê dit is nog nie bekend wat die oorsaak van die brand is nie.

’n Woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, Robert Daniels, het bevestig dat die twee vroue in die Tygerberg-hospitaal behandel word.

Daniels sê ’n man wat brand­wonde opgedoen het, is ook in die hospitaal opgeneem.

Na verneem word, is die slagoffers van die brand almal Etiopiërs.

Personeel van die Stad se nooddienste was gister­middag laat nog besig op die toneel.

Oorleef: ’n Vrou het met haar baba uit dié brandende gebou gespring. Foto’s: Abongile Nzelenzele
noodlottig: ’n Agtjarige kind het sy lewe in die brand verloor.
flink teen vlamme: Die brandweer het die brand op die derde en vierde verdieping van die Amdenhof-gebou in Voortrekkerweg, Bellville, binne ’n uur geblus.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters