2 maande gelede
Brand eis een
Brand vat 11 hokkies
'n Brand in Delft het 11 hokkies verwoes.  ~ Verskaf

’n MAN is dood en ’n ander een beseer na ’n verwoestende brand in Gugulethu. 

Die brand het Sondag net na middernag in Bongastraat uitgebreek, sê Jermaine Carelse, woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brand en reddingsdienste. 

Carelse sê brandbestryders van Landsdowne en Belhar is na die toneel ontbied. 

“Die brand is voor 01:00 geblus. Twee informele huise is in die brand verwoes en ’n formele huis is beskadig.”

’n Man (38) se lyk is in die puin gevind. Nog ’n man (28) het brandwonde opgedoen. Hy is na die hospitaal geneem.

Carelse sê die oorsaak van die brand is nog nie vasgestel nie. In ’n ander brand wat in Varingstraat in Delft gewoed het, is 11 hokkies verwoes. Die brand het Sondagoggend omstreeks 05:20 begin.

Carelse sê 19 brandbestryders van Belhar, Landsdowne en Mfuleni was op die toneel. Die brand is kort na 06:30 geblus. 

“Niemand is in die brand beseer nie. Eskom is in kennis gestel omdat daar baie kragdrade was wat die brandbestryders se werk vermoeilik het."

Altesaam 32 mense is dakloos gelaat.

Angus McKenzie, subraad voorsitter, sê hy is dankbaar dat niemand in die brand beseer of vermoor is. “Ek doen ’n beroep op die gemeenskap om die families te help om weer te herbou aan dit wat fisies en emosioneel beskadig is.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters