2 jaar gelede
Brand eis agt
tragedie: ’n Onbekende jong meisie kyk gisteroggend nuuskierig na die uitgebrande shack waarin agt doodgebrand het..Foto’s: melinda stuurman  ~ 

BRANDENDE woede en die invloed van drank.

Dit was blykbaar die oorsaak van ’n brand wat gister vroegoggend die lewe van agt mense, onder wie vier kinders, geëis het.

Die oorledenes was Mvano Bangani­ (2), Endinako Bangani­ (7), Athenkosi Bangani (7), Abongile Bangani (9), Sisipho Bangani (14), Wanda Bangani (28), Dumile Bangani (44) en Nonkululeko Bangani (60).

Die polisie het intussen begin om ’n saak van brandstigting te ondersoek.

Die shack waarin dié agt mense geslaap het, het omstreeks 01:30 vlam gevat.

Die brand het uitgebreek in die Taiwan-plakkerskamp in Site C, Khayelitsha.

Yonela Bangani (24) sê gister bitter hartseer dat sy so baie mense verloor het. – haar seun Endinako, ma Nonkululeko, broer Dumile, ’n neef, Wanda, en haar niggies.

Sy sê: “Ek vermoed dis iemand wat in Delft woon wat die brand veroorsaak het deur ’n petrolbom by die shack in te gooi terwyl ons geslaap het.”

Volgens Yonela was ene Zindiphile Sondagaand betrokke in ’n stryery met haar oom Zamanisile Bangani.

Yonela verduidelik: “Zindiphile het my oom daarvan beskuldig dat hy toor.

“Toe ek by die huis kom, was sy besig om hom te klap.

“Ek het ingegryp en vir haar gesê sy het nie die reg om my oom só te beledig nie en sy moet waai, want my ma-hulle is grootmense en dis nie reg van haar om saam met hulle alkohol te drink nie.

“ Toe sy loop, het sy gesê sy gaan iemand aan die brand steek, maar ons het nie baie aandag daaraan gegee nie.”

Yonela sê verder: “Ek het in die nag uit my slaap wakker geskrik omdat ek choke aan rook.

“Toe ek opstaan, het ek gesien die brand het al die ander kamers van die shack verswelg en die hele vertrek was pikdonker weens die rook.

“Gelukkig het my neef se girlfriend, Zizipho, gou gedink en die sinkplate in die muur oopgebreek.

“Uit die tien mense wat in die shack met vier kamers geslaap het, is dit net ons twee wat die brand oorleef het.”

Yonela sê sy is baie hartseer oor wat gebeur het, want sy het byna haar hele familie verloor.

“Ons was almal werkloos en het my ma gehelp met haar besigheid van skaapkoppe verkoop.

“Verder was ons afhanklik van Sassa-gelde,” sê sy.

’n Polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, bevestig ’n saak van brandstigting word in verband met die voorval ondersoek.

“Geen arrestasies is nog gemaak nie,” voeg Van Wyk by.

Hy sê verder: “Enigeen met inligting­ oor dié noodlottige voorval word gevra om Crime­ Stop by 08600 10111 te bel.”

Volgens die Stad Kaapstad se brand- en reddingseenheid is hulle­ 01:40 na die toneel uitgeroep.

Vier strukture het afgebrand en 22 mense is dakloos gelaat.

  • Intussen is tientalle mense ook gisteroggend in die Vlottenburg-plakkerskamp naby Stellenbosch dakloos gelaat weens ’n brand wat omstreeks 04:00 ontstaan het.

Sowat 23 strukture is in die brand vernietig.

Niemand is in die voorval beseer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters