9 maande gelede
Booysen oorleef
bewyse: Die polisie was nog laat op die toneel besig om na leidrade te soek. Foto’s: Peter Abrahams  ~ 

DIE Donkie is ’n wonderlike ding.

Jerome “Donkie” Booysen, die vermeende leier van die Sexy Boys bende, het gister die sesde hit op sy lewe in sowat ’n jaar oorleef.

Gerugte doen die ronde dat sy bodyguard blykbaar vir hom ’n bullet gevat het en in die aanval noodlottig gewond is.

Ander sê weer die slag­offer is een van die skieters wat deur Donkie se body­guards doodgeskiet is.

Die voorval het in die Iowa Spur, in Kuilsrivier se Soneike Mall, gebeur.

Luidens gerugte het die skieters op Booysen en sy bodyguards toegesak en begin losbrand.

Booysen is net in die arm gewond en het deur die agterdeur van die restaurant ontsnap.

bevestig: Die paramedics verklaar die slagoffer op die toneel in die restaurant in Kuilsrivier dood.

Een van sy ander body­guards het hom hospitaal toe geneem.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die skietvoorval bevestig.

Van Wyk sê: “Die omstandighede rondom ’n skietvoorval omstreeks 15:00 by ’n inkopiesentrum in Kuilsrivier word ondersoek.

“Een persoon is doodgeskiet en nog ’n man is tydens die voorval gewond.

“Die polisie ondersoek ’n saak van moord.”

Volgens kapt. Van Wyk was die polisie se forensiese spesialiste nog gistermiddag op die misdaad­toneel op soek na leidrade.

Twee gewapen­de mans het Donkie op 18 Oktober 2017 op die Kaapstadse Inter­nasionale Lughawe aangeval.

Dit het gevolg nadat daar glo ’n prys van R5 miljoen op sy kop gesit is.

kanniedood: Jerome “Donkie” Booysen is ná nóg ’n aanslag op sy lewe nog staande.

Donkie is in daardie voorval in die bors en regterarm gewond. Dit was die derde aanslag op sy lewe.

’n Paar dae daarna was daar nóg ’n hit op Donkie se lewe by die hospitaal waar hy aangesterk het.

’n Man het hom as ’n dokter vermom en wou Donkie na verneem word daar in die hospitaal vergiftig.

Die man is glo met ’n spuitnaald vol slanggif betrap. Hy wou Donkie glo daarmee “behandel”.

In Maart is daar weer op Booysen geskiet toe hy in ’n voertuig in Mitchells Plain was. Hy is nie beseer nie.

Booysen het egter ontken daar is op hom geskiet.

Maar volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het die polisie geweet van ’n skietvoorval wat op daai spesifieke aand in Beacon Valley, Mitchells Plain, voorgekom het.

Volgens Rwexana het die slagoffer egter nie ’n saak geopen nie.

Volg Bohemia Hoffmeester op Twitter.

Stuur nuuswenke aan Son na info@son.co.za.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters