Verlede maand
Bonteheuwel bly bloedbad
MOORDTONEEL: Stiaan Vlok (31) is Vrydagaand in Jakkalsvleilaan in Bonteheuwel koelbloedig doodgeskiet.Foto: Leon Knipe  ~ 

BONTEHEUWEL se bloedvlekke raak net al hoe meer.

Sedert die begin van die jaar is daar reeds 31 mense in dié gemeenskap vermoor.

En dit is net die vermoordes, met die gewondes glad nie by die syfer ingereken nie.

Dit beteken daar kom weekliks ’n lykswa in dié gemeenskap in om maar weer ’n lyk of twee te kom verwyder.

Die bendeskietery lyk asof dit net nie wil stop nie.

In die jongste skietvoorval is Stiaan Vlok (31) Vrydag koelbloedig doodgeskiet.

Dit het 20:45 in Jakkalsvleilaan gebeur. Vlok is op die toneel dood nadat hy in die kop geskiet is.

Dit kom kort op die hakke van ’n skietery Donderdagaand waartydens drie mense, onder wei ’n 37-jarige vrou, gewond is.

Behandel

Dié skietery het in Came­liastraat plaasgevind. Die vrou is in die rug gewond en ’n 17-jarige seun in die been.

Die derde slagoffer is ’n man wat in sy agterstewe gewond is. Die gewondes is op die toneel behandel.

Die cops het kort ná die voorval Donderdagaand ’n verdagte (18) gearresteer nadat hulle inligting opgevolg het. Hulle het ook ’n vuur­wapen in sy besit gekry.

Angus McKenzie, wyksraadslid in Bonteheuwel, bevestig die moordsyfer in die gemeenskap staan op 31.

McKenzie sê: “Die gebied is ’n bietjie stiller oor dit nou Ramadaan is.

“Maar die skietery gaan nog aan, want daar is dié naweek een doodgeskiet en drie mense gewond.

“Die 100 ekstra metro cops wat vir ontplooiing hier beloof is, sal eers in Junie kom omdat hulle nog besig is met opleiding.”

Volgens lt.kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, is niemand nog vir Vrydagaand se moord gearresteer nie.

Die 18-jarige verdagte in Donderdag se voorval sal vandag in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn.

Hy staan tereg vir poging tot moord en die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters