24 dae gelede
Bontas brand weer los
NUUSKIERIGES: Inwoners staan agter die polisie-lyn op Borriehoutstraat in Bonteheuwel.  ~ Leon Knipe

’N MAN van aftree-ouderdom is dood toe die skietery in Bonteheuwel weer opgevlam het.

Die betrokke skietvoorval het Dinsdag omstreeks 19:30 in Borriehoutstraat plaasgevind.

Volgens die wyksraadslid, Angus McKenzie, was dit ’n geïsoleerde voorval.

Hy sê die man het in die kruisvuur beland toe bendelede op mekaar geskiet het.

Geïsoleerde

McKenzie verduidelik: “Die voorval is vermoedelik bendeverwant, maar die slagoffer is nie ’n bendelid nie. Ons doen ’n beroep op enige een wat inligting oor die voorval het om die polisie te kontak.

“Dit is ’n geïsoleerde voorval hierdie, want ons het in die eerste week van Junie laas ’n skietvoorval in die area gehad.

“Ons vra die polisie om sy sigbaarheid in die area te vermeerder.”

Volgens McKenzie is die slagoffer net as ene “Pang” identifiseer.

’n Polisiewoordvoerder, sers. Noloyiso Rwexana, het die voorval bevestig.

Volgens haar is geen arrestasies in dié stadium al gedoen nie.

Die ondersoek duur voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters