Verlede maand
Boesemvrinne sterf saam
rodney williamsFOTO’S VERSKAF  ~ 

TWEE boesemvriende het saam verdrink nadat hulle gaan visvang het.

Rodney Williams (61) en Yusuf Arnolds het soos gewoonlik Saterdag visgevang toe ’n brander hulle van ’n rots afgeslaan het.

Die voorval het in Rooiels plaasgevind.

Williams se familie het net mooi herinneringe van hom.

Volgens sy suster, Anne Williams, het hy al van kleins af saam met hulle pa visgevang.

Rodney het sowat twee tot drie keer per maand visgevang, vertel sy.

Williams sê toe hulle Saterdag omstreeks 18:00 die tyding kry, het sy geweier om te glo haar broer het verdrink.

’n Hartseer Williams vertel: “Ek hou nie van stories glo nie.

“Ek het vir die speurder gesê ek wil liewer self sien dat hy dood is.

Uitken

“Ons hele familie is met vier karre na die Tygerberg-lykshuis, waar hy gelê het.

“Dit was toe al laat en hulle was toe. So, dit was vir hulle baie moeilik om vir ons met sekerheid te sê dit is wel hy.

“Die hoof van die lykshuis het toe gebel en gereël dat ’n foto van hom geneem word sodat ons hom kan uitken.

“Ons wou sekerheid hê. Ons wou nie tot Maandag wag nie.

“Toe hulle die foto aan ons wys, het ons geweet dit is werklik hy.

“Hy het baie rustig gelyk. Soos een wat slaap.”

Williams sê verder haar broer was baie lief vir die buitelewe.

Hy was onlangs nog saam met sy vriende op ’n road trip Krugerwildtuin toe.

Williams onthou haar broer só: “Hy het nog beplan om die wêreld saam met sy vrou te toer sodra hy afgetree het.

“Hy was baie lief vir braai en het elke Sondag gebraai.

“Op ’n Kersfees wanneer sy vrou nog wou kos maak, was hy reeds aan die braai.”

Farren Williams (26), Rodney se dogter, sê met trots haar ma en pa sou in Desember 40 jaar getroud gewees het. Die partytjie was reeds beplan. ’n Groot makietie sou gehou word, brag sy.

Farren vertel: “My pa was my ma se alles. Hy was haar staatmaker, haar regterhand. Ons wou haar nie saamneem om sy lyk uit te ken nie omdat sy dit nie sou maak nie.”

Arnolds se familie wou nie met Son praat nie.

Sy vrou het net gesê sy was by die werk toe die voorval gebeur het. Sy het geen inligting nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters