4 jaar gelede
Boelie vergruis kid se oogbank
EINA: Cornay Geyer (13) kort nadat hy so vieslik by sy skool aangerand is. FOTO VERSKAF  ~ 
skokkend: Cornay Geyer (13) saam met sy skoolvriend Dale Palmer (12), wat by was toe hy aangerand is. Foto: MELINDA STUURMAN
EINA: Cornay Geyer (13) kort nadat hy so vieslik by sy skool aangerand is. FOTO VERSKAF

’N SKOOLSEUN van ­Parow kort nou plastiese chirurgie nadat hy Donderdag deur ’n boelie by die skool aangerand is.

Cornay Geyer (13), ’n leerder van die Laerskool Parow-Wes, se oogbank is vergruis.

Die aanranding het glo tydens tweede pouse gebeur.

Die vermeende boelie, ’n gr. 7-leerder, het glo Geyer verskeie kere in die gesig geskop.

Die seun vertel gister dat sy aanvaller hom gestamp het en hy het hom toe terug gestamp.

Geyser sê: “Ek het saam met my vriende toilet toe gegaan. Toe ons uit die toilet kom, wou die outjie weet hoekom ons so lank in die toilet was.

“Hy het my gestamp. Toe stamp ek hom terug. Hy het my twee keer deur die gesig geklap.

“Toe het hy met sy knie in my maag gestamp dat ek inmekaarsak.

“Daarna het hy my geskop – so erg dat ek op die teer geval het. Hy het my toe my verskeie kere in die gesig geskop.”

Volgens Geyer het vier prefekte gestaan en kyk hoe alles gebeur.

Geyer se ontstelde pa, Donald (53), vaar uit: “Ek het Donderdag ’n oproep gekry ek moet my seun by die skool kom haal.

“Hy het in die wagkamer gelê met ’n lap oor sy gesig.

“Die beserings het tóé nie erg gelyk nie.

“Toe ons by die huis kom, het sy gesig ­erger begin opgeswel.

“Ons het hom na die Louis ­Leipoldt-hospitaal geneem en van daar is hy na Tygerberg oorgeplaas.

“Hulle het X-strale geneem en in daardie stadium was ons bang dat hy sy oog kan verloor. By die Tygerberg-hospitaal het hulle ’n scan gedoen en gesien sy oogbank is vergruis.”

Sy ma, Agnus (54), sê: “Ons het al verskeie kere die afgelope twee jaar gekla oor my kind by die skool geboelie word.

“Die klong wat hom so slaan, is verlede jaar ook geskors. Hy het ’n ander seun se kop teen die teer gekap.

“Elke keer word net gesê om ’n klagtebrief in te vul, maar hulle doen niks.”

Nog ’n ontevrede ma sê: “My seun se oog is ook al blou geslaan deur ’n boelie by die skool.”

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, is ’n saak van ernstige aanranding geopen en niemand is nog gearresteer nie.

Millicent Merton, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê die voorval word in ’n ernstige lig beskou en die distrikskantoor is besig om die voorval te ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
29 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters